MOSSELBAAI NUUS - Die nuwe jaar het verandering vir almal in Mosselbaai ingelui, maar veral die Mosselbaai Gastehuisgilde.
Nou bekend as die Mosselbaai Akkommodasie Netwerk (MAN), het dié organisasie sy amptelike bekendstelling op Dinsdag, 21 Januarie, in Danabaai gehad.
MAN is 26 jaar gelede in die lewe geroep, en ofskoon 20 gastehuise hulle deur moes sluit met die COVID-19-pandemie, is dié organisasie weer volstoom aan die gang.
Die fokus is nou daarop om die handelsmerk te verander en 'n varsheid na die organisasie te bring, terwyl die goeie gehalte van al die beskikbare verblyf gehandhaaf word.
"Dit gaan nie net oor die verandering van ons naam nie, maar ook 'n kans om die beste van Mosselbaai se akkommodasie te bied aan besoekers," said Janneke Wait, wat in beheer is van die organisasie se bemarking.
Die geleentheid het spesiale gaste verwelkom insluitend die Mosselbaai Sakekamer, Mosselbaai Toerisme en burgemeester van Mosselbaai, Dirk Kotzé mét lede van sy raad.
Burgemeester Dirk Kotzé het die geleentheid saam met lede van sy raad bygewoon. Foto: Gabriélla Siebritz
Kotzé het akkommodasie eienaars van Mosselbaai bedank, en het gedeel dat verblyf oor die feesseisoen baie nuwe en ou besoekers na die dorp bring en help om Mosselbaai se ekonomie in die algemeen 'n hupstoot gee.
Die burgemeester het ook melding gemaak van die Disability Accessibility Mossel Bay-projek, 'n stelsel wat ontwerp is om Mosselbaai 'n meer toeganklike dorp vir persone met gestremdhede te maak.
"Die hoop is dat besighede, insluitend akkommodasie, aanpassings sal maak vir diegene met gestremdhede wat in Mosselbaai woon of besoek aflê," het hy gesê.
MAN bestaan uit 'n groep gastehuise en selfsorgverblyf in die Mosselbaai-omgewing.
Dié netwerk verseker dat gastehuise, selfsorg-eenhede, bed-en-ontbyte, oorde en plaasverblyf almal aan standaardvereistes voldoen en sal dit ook namens lede bemark.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’