MOSSELBAAI NUUS - 'n Byeenkoms verlede Donderdag, 14 Januarie by die Punt, kondig moontlik groter welvaart, onder meer beter eiendomspryse vir Mosselbaai aan.
Dit word in die vooruitsig gestel deur die beplande uitbreiding van die bestaande grense van die sentrale verbeteringsdistrik, oftewel die CID (Central Improvement District).
Mosselbaai het in 2012 die eerste Suid-Kaapse dorp geword om so 'n inisiatief ter verbetering van die sentrale sakekern en omliggende woongebiede te implementeer.
Die plaaslike CID-projek is geskoei op die model van die Cape Town's Central City Improvement District (CCID). Die CCID word vanjaar vir 20 jaar reeds met groot sukses bedryf en het 'n goed gedokumenteerde impak op veral ekonomiese herlewing.
Werksaamhede van 'n tipiese CID, ook in Mosselbaai, behels onder meer die opknapping van veiligheid.
Uitbreiding
Tydens verlede Donderdag se byeenkoms, het professor Erwin Schwella, 'n kundige en toonaangewende stem wat publieke leierskap en sosiale innovering betref, 'n paar van die denkprosesse verduidelik. Schwella was aanvanklik deel van die stukrag agter die projek en speel steeds 'n sleutelrol.
Schwella se broer, Werner neem vanjaar die leisels by die vorige voorsitter, Johan van Rensburg oor. Werner Schwella is 'n gesoute veldtogbestuurder en was betrokke by die stigting van die sentrale verbeteringsdistrik (CID) in Voortrekkerweg, Belville.
Professor Schwella het gesels oor die horisontale uitbreiding van die CID met betrekking tot die vergroting van die gebied se grense. Dit sal in die toekoms, sou 51% van die stemme van alle eiendomseienaars in die voorgestelde gebied verkry word, die Punt-area insluit, 'n groter deel van die Mosselbaaise sogenaamde bo- en onderdorp, en strek tot by De Bakke.
Tydens die gesprek, het Schwella beklemtoon dat die CID-konsep suksesvol is omdat dit 'n sosiale kontrak behels waarin verskeie partye saamwerk om 'n beter leef- en handelsruimte vir almal te skep.
"Ons moet innoveer, deur bestaande prosesse te herorganiseer. Die gedagte is om Mosselbaai in 'n uitnemende area te omskep - nie net 'n plek nie, maar 'n bestemming."
Deel van hierdie innovering, aldus Schwella, is die vertikale uitbreiding van die CID.
"Ons praat hier van 'n intellektuele ruimte wat ons wil uitbrei deur middel van kreatiewe bydraes deur die dorp se eie mense."
Hy het spesifiek verwys na die ontwikkeling van nuwe digitale markte en die skep van werksgeleenthede.
"Mense innoveer wanneer hulle onder druk verkeer. Ons kan 'n gesamentlike poging aanpak, sonder 'n politieke rewolusie."
Steun
Vyf meningsvormers en inwoners het tydens 'n simboliese ondertekening hulle steun aan die vergroting van die CID toegesê.
"Ons wil graag persoonlike gesprekke met mense aanknoop tydens hierdie veldtog. Ons noem dit - let's get out the vote, kom gesels met ons," nooi Werner Schwella.
Op 27 Januarie hou die CID-bestuur 'n inligtingsdag by Delfino's Restaurant tussen 09:30 en 11:30. Op 30 Maart bied prof Erwin Schwella 'n dagkonferensie aan oor spesifiek die vertikale uitbreiding van die CID aan.
Vir meer inligting, kontak Werner Schwella - 083 891 6691 of stuur e-pos na werner@schwella.co.za.
Besoek ook die CID Facebookblad of die webtuiste.
Broumeester Ampie Kruger en trotse inwoner van Hoogstraat, Mosselbaai sê sy steun toe aan die vergroting van die sentrale verbeteringsdistrik. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'