MOSSELBAAI NUUS - Die 49-jarige Cornelia Liebenberg het die afgelope Sondag, 17 November, die Ironman 70.3 met ywer aangedurf en met 'n gevoel van genoegdoening en trots die eindstreep in ses uur en 21 minute oorgesteek.
Dié veeleisende driekamp-byeenkoms is in drie fases voltooi met die swem oor 1.9km, die hardloop oor 21.1km en fietsry oor 90km.
Liebenberg is 'n siggestremde atleet van Kaapstad en sy was vol lof vir haar gids, Shane Williams, wat haar tot op die einde nie net gehelp het nie, maar ook deurgaans aangemoedig het.
"As iemand anders saam met my was, sou ons gesukkel het," het sy gesê.
Soos voorheen berig, is Liebenberg geen vreemdeling vir die uitdaging om aan 'n Ironman deel te neem nie. Sy het immers reeds vier voltooi terwyl die Comrades- en Twee Oseane-ultra-marathonne ook deel van haar CV uitmaak.
Vir Liebenberg was een van die hoogtepunte van Sondag se byeenkoms die ondersteuning wat sy en die res van die deelnemers van die toeskouers op die roete ondervind het.
"Mosselbaai is 'n baie hegte dorp, en dit was belonend en hartverblydend om die aanmoediging te beleef,” het sy gesê.
'n Strawwe kompetisie soos dié is egter nie sonder sy uitdagings nie.
Vir Liebenberg was die swemgedeelte die strafste en die stroom tussen die Santos- en De Bakkestrande het dinge ook nie vergemaklik nie voor hulle die volgende uitdaging op die fiets aangedurf het.
Die hardloopgedeelte daarna was ook nie maklik nie. Die roete oor 7km, wat drie keer voltooi moes word, het genoeg bulte ingesluit.
“Die 6km opdraand ná die ommeswaai was geestelik uitdagend,” het Liebenberg gedeel.
Maar selfs dié uitdagings op die pad en die see het Liebenberg en Williams nie gekeer om die wenstreep oor te steek nie.
Vir nou, sal sy egter 'n welverdiende ruskans van oefening geniet.
"Oefening is vermoeiend, maar ek sal altyd aanhou hardloop."
Sy sê sy sal beslis intussen die af-en-toe hardloop of swem geniet, maar in 'n meer gemaklike omgewing, sonder die druk, wat 'n uitmergeldende kompetisie soos die Ironman bied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’