Update
MOSSELBAAI NUUS - Veiligheidsmaatreëls sal vanjaar tydens die jaarlikse interskole tussen Hoërskool Punt en Langenhoven Gimnasium by die Van Riebeeck-stadion in Mosselbaai opgeskerp word ná verlede week se messteekvoorval by 'n rugbywedstryd in Bredasdorp.
Die hoof van Punt, Adolf Gouws, het aan Mossel Bay Advertiser bevestig dat ekstra veiligheidsmaatreëls vir die naweek ingestel sal word, met bykomende sekerheidswagte wat tydens die sportbyeenkoms ontplooi sal word.
Gouws het die voorval as 'n geïsoleerde voorval beskryf en gesê die skool se bestuurspan het dit bespreek en sal na maniere kyk om veiligheid tydens toekomstige sportbyeenkomste verder te verbeter.
Die Punt-leerder wat tydens die voorval gesteek is, is intussen uit die hospitaal ontslaan en dit gaan volgens Gouws goed met hom.
Hy sê die skool wil nie oorreageer nie, maar eerder proaktief optree om soortgelyke insidente te voorkom.
"Ons vra nie daarvoor nie, maar dit gebeur," het hy gesê.
Volgens Gouws sal die skool se hekke tydens die interskole beman word, terwyl ekstra wagte ook ontplooi sal word.
Intussen is 'n 16-jarige verdagte in verband met die messteekvoorval in hegtenis geneem.
Die verdagte is nie 'n leerder van Hoërskool Bredasdorp nie, maar is by 'n ander skool in die omgewing ingeskryf.
Hy het Woensdag 12 Augustus in die landdroshof in Bredasdorp verskyn. Die uitslag van sy verskyning was nie teen die ter perse gaan bekend nie.
Die hoof van Hoërskool Bredasdorp, Muller Retief, het aan die Advertiser gesê die skool beskou die voorval ook as 'n geïsoleerde insident, maar beplan om sy sekuriteitskameras op die terrein uit te brei.
"Ons wil graag so 'n insident voorkom," het hy gesê.
Die interskole tussen Punt en Langenhoven Gimnasium vind Vrydag en Saterdag, 14 en 15 Augustus, by die Van Riebeeck-stadion plaas.
Honderde leerders en ondersteuners sal na verwagting die sportbyeenkoms bywoon.
Vorige artikels:
- Punt-matriekleerder in Bredasdorp gesteek: Poging tot moord ondersoek
- Matriekleerder van Hoërskool Punt gesteek ná sportbyeenkoms op Bredasdorp
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’