MOSSELBAAI NUUS - Besigheidseienaars en inwoners van Mosselbaai se sentrale dorpsgebied en omliggende woonbuurte, het 'n beroep op die polisie en sy vennote in wetstoepassing gedoen om dringend 'n Imbizo te hou oor die toenemende misdaad in die gebied.
Dit volg ná 'n vlaag van misdaad wat Mosselbaai die afgelope tyd getref het met inbrake by verskeie besighede, beskadiging van eiendom, aanrandings en intimidasie van die publiek.
Inwoners en besighede kla dat leeglêers toenemend aggressiewe en beledigende gedrag openbaar, eiendom beskadig word, daar op sypaadjies geürineer en ontlas word en dwelmbedrywighede plaasvind.
Die Romey drankwinkel in Marshstraat, is die afgelope Saterdagoggend, helder oordag beroof. Volgens die polisiewoordvoerder, sers Chris Spies, dui 'n voorlopige ondersoek daarop dat twee mans met ‘n vuurwapen die winkel binne gestorm en die personeel met vuurwapens gedreig het.
'n Onbekende bedrag kontant is uit die kasregister gesteel voor die mans in 'n wit Honda gevlug het.
'n Besigheidseienaar in Marshstraat, sê dit lyk asof die polisie en die munisipale wetstoepassers hul voete sleep en agter die leeglêers en haweloses mense se menseregte skuil, terwyl baie besighede en die toeristebedryf se voortbestaan in die weegskaal is.
Dit lei ook tot die verlies van werksgeleenthede en 'n verswakking in die ekonomie wat reeds broos is." Luther van der Mescht van Monties Fietse vra dat die hawelose/leeglêer probleem dringend aandag kry.
"Ons moet elke oggend voor ons winkels opruim met die systraatjie langsaan wat mense helder oordag as toilet gebruik.
“Hier is geen toiletgeriewe vir die mense nie. Ons is nou 50 jaar hier en het onlangs teen groot koste die winkel oorgedoen. My kliënte kla dat hulle lastig geval word. Die situasie jaag besighede en verbruikers uit die dorp. Ons het beslis meer munisipale wetstoepassers nodig."
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’