Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie ondersoek 'n saak waarin 'n 27-jarige man van Mosselbaai die naweek tydens 'n messtekery by 'n plaaslike eetplek, dood is.
Die voorval het om 03:55 op 30 Julie voor die KFC-eetplek in Voorbaai plaasgevind.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie, het daar vermoedelik 'n onderonsie tussen die oorledene, Lee Roy Joubert en 'n onbekende man ontstaan, waartydens laasgenoemde Joubert met 'n mes gesteek het. Die verdagte het van die toneel ontvlug in 'n wit CAW-geregistreerde Mazda (CAW 99289). Vriende van die verwonde Joubert wat op die misdaadtoneel teenwoordig was, het hom na die Mosselbaai provinsiale hospitaal gehaas, waar hy dood verklaar is.
Volgens inligting ontvang van die Da Gamaskop-polisie is 'n moordverdagte reeds geïdentifiseer, maar teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie aangesien daar nog na die verdagte gesoek word. Die saak word ondersoek deur sers Donovan Geswindt van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Sy plek is leeg'
Iris en André Joubert, Lee Roy se ouers het vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat die skok van sy dood nog nie werklik tot hulle deurgedring het nie.
"Ons weet ook nie wat eintlik gebeur het nie. Van sy vriende wat op die toneel was is nog te getraumatiseerd om te kan vertel wat presies aangegaan het," vertel Iris. Lee Roy was 'n werknemer in sy pa se onderneming, South Cape Fire Services. Sy pa, André sê hy was baie ambisieus en hardwerkend. Lee Roy het by sy ouers in die huis gebly. "Sy plek is nou leeg."
"Saterdag het hy heeldag nog gewerk en so na 19:00 uitgegaan met sy vriende. Hy het eers met ons kleinkinders gespeel voor hy weg is. Ek het hom nog gevra hoe laat hy huis toe kom. Dit is die laaste keer wat ek met hom gepraat het," sê Iris.
Hulle weet nie wat die motief vir die moord op hulle seun was nie. "Lee Roy was 'n joviale mens."
Lee Roy word oorleef deur sy ouers, sy tweelingsuster en twee ouer broers. Sy begrafnis is môre, 5 Augustus om 08:30 by die huis, Tulipstraat 5, Uitbreiding 6 en dan uit die Shilo Ministry Baptiste Kerk, John Brownstraat.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'