Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Verskeie klagtes is van inwoners ontvang rakende die gehalte van die stormwater tussen Diasstrand en De Bakke.
Daar word beweer dat stormwater wat die see invloei rommel, skuim en selfs riool bevat.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het op navrae oor die kwessie reageer.
Die mees onlangse verstopping van riool wat in die natuurlike afloopkanale van die stormwater kon beland het, was ongeveer vyf weke gelede in die omgewing van Gentswana-rylaan, in KwaNonqaba.
Riooloorblyfsels van vorige rioolverstoppings wat moontlik tussen plantegroei vasgesteek het, mag weens 'n sterk reënbui saam met die stormwater by die Diasstrand beland het.
Kyk 'n video hieronder:
"Mosselbaai-munisipaliteit is nie bewus van enige groot rioolverstoppings wat sedertdien in die omgewing van die natuurlike stormwater-aflope kon plaasgevind het nie. 'n Deeglike inspeksie sal gedoen word om te verseker dat 'n rioolverstopping, wat moontlik nie aangemeld is nie, voorkom kan word.
"Water vanuit die klofies is natuurlik te wagte in ag genome die onlangse goeie reën. Die water word gereeld deur die munisipaliteit gemonitor en daar het nog niks op die amptelike kanale deurgekom dat daar riool in die watertoetsresultate opgemerk is nie. Wat wel gebeur is dat van die water wat hoër op opdam en slikkerig raak, weens goeie neerslag 'uitgewas' word. Dit veroorsaak dat die water wanneer dit die see bereik, sleg ruik. Dit is ook algemeen bekend dat die bokboere die afloop probeer opdam vir drinkwater vir hul diere – met die logiese gevolge wanneer goeie neerslag dan val," berig die munisipaliteit.
Na aanleiding van die munisipaliteit se terugvoering, het 'n inwoner aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die munisipaliteit ten minste siwwe by die brûe in Louis Fourieweg kan installeer wat dan gereeld skoongemaak kan word, veral na goeie reën om 'n groot gedeelte van die rommel wat die see invloei, te keer.
Die munisipaliteit nooi die gemeenskap om enige diensleweringsprobleme direk aan te meld by enige van die amptelike kanale, onder meer die 24/7 kontaknommer 044 606 5000, of die SMS-lyn by 44802, of om 'n e-pos te rig aan admin@mosselbay.gov.za
Natuurlike stormwater van verskeie dele uit die woongebiede vloei op twee plekke in die see in tussen De Bakke en Diasstrand.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'