MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het onlangs ‘n groep jongmense wat Suid-Afrikaanse kleure in hul onderskeie sportsoorte behaal het, tydens ‘n spesiale geleentheid vereer en aangemoedig om hul sport te beoefen en sodoende `n verskil in hul gemeenskappe te maak.
Spesiale toekennings is oorhandig en die burgemeester het ook die munisipaliteit se volgehoue steun aan die jong sportuitblinkers toegesê.
Die groep wat vereer is, is soos volg:
• Erika Primêre skool - Kass Muller, o/13 gholf (afwesig).
• Groot-Brakrivier Primêre Skool - Ashwin Damons, bofbal.
• Diaz Primêre skool - Lee Roy Muller, baldanse (afwesig), Jade Moolman – baldanse, Alrich Andry Gelderbloem – hengel, Andonesia Kietas – rugby, Edwaline Dickson – rugby en Renicia Dickson - gimnastiek.
Van die leerders was egter reeds in die buiteland en elders by oefenkampe en sportbyeenkomste en kon die oorhandigings nie bywoon nie.
Raadslid Venolea Fortuin, burgemeesterskomiteelid vir die jeug, het almal gelukgewens met hul uitsonderlike prestasie deur SA-kleure in sport te behaal.
“Van ons kant af wil ons u hartlik geluk wens. Mosselbaai-munisipaliteit wil aktief sport in ons gemeenskappe bevorder.
"Sport hou almal aktief en gesond en lei tot gesonde gemeenskappe.”
Van die leerders het ook hul dank teenoor hul afrigters en andere in hul ondersteuningsnetwerke uitgespreek.
“Visvang het tot dusver ‘n baie groot rol in my lewe gespeel en my weggehou van die negatiewe dinge rondom my,” het Alrich Gelderbloem, wat SA-kleure in hengel verwerf het, gesê.
Hy het ook sy afrigter, Chester Williams, bedank vir alles wat hy vir hom doen en beteken.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, saam met die jongmense wat Suid-Afrikaanse kleure in hul onderskeie sportsoorte behaal het.
Andonesia Kietas wat SA-kleure in rugby ontvang het: “Toe ek rugby agterkom, het ek nie verstaan waaroor dit gaan nie, maar ek het dit interessant gevind en is nie vandag spyt ek het die droom nagejaag nie.
"Dis duidelik hoe dit (rugby) my hele lewe verander het. Ek wil almal bedank vir hul ondersteuning.”
“Sonder dat julle besef is julle rolmodelle in julle onderskeie gemeenskappe. Jy weet nooit wie na jou opkyk nie.
"Jou actions kan diegene rondom jou of negatief of positief beïnvloed. Onthou, al bly jy waar, stap met trots, want julle klomp is uitsonderlike jongmense.
“Ons gaan julle ondersteun sover ons kan, want julle help ons met jeugontwikkeling deurdat julle jeugdige rolmodelle is. Ons dank julle daarvoor,” het raadsheer Levendal afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'