MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se sogenaamde jazz-prinses, SUNEL, reeds bekend vir haar debuut-enkelsnit, Fickle Heart en wie se tweede enkelsnit,
Hart Op Jou Mou, bo-aan verskeie trefferparades was, reik nou gedurende April 2019 haar derde enkelsnit en musiekvideo, Hart Se Wens uit.
Sy het die liedjie self geskryf na aanleiding van 'n liefdesteleurstelling.
“Ek skryf gewoonlik altyd met ‘n konsep in gedagte, maar ook uit persoonlike ervarings. Ek dink ons almal het al ons harte so bietjie laat breek. Dis nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Dit maak ons wyser en meer ervare as dit kom by die liefde," sê SUNEL.
Die liedjie was reeds klaar geskryf en opgeneem, toe haar pad kruis met dié van Hugo Ludik en Vaughan Gradiner van Muse Productions. Hulle was opgewonde om haar te help om die liedjie tot sy volle potensiaal te bring en iets heeltemal uniek te skep.
Die musiekvideo is in Johannesburg in ‘n groot stoorkamer geskiet en vervaardig deur Fathom Media. Die konsep was om iets te skep wat eenvoudig, tog treffend is. SUNEL sê dit was wonderlik om saam met Jacques Loots en sy span by Fathom Media te werk: “Hulle het dit vir my so spesiaal gemaak as wat hulle kon. Jay (Jacques Loots) het dieselfde visie vir die video en liedjie gehad as ek en ons het dieselfde kreatiewe energie gehad.”
Meer oor SUNEL
Sy het in ’n huis vol musiek grootgeword en het gedurende haar skooljare koor gesing, aan konserte deelgeneem en klavierlesse gehad. In paar jaar waarin sy al professioneel musiek maak, het sy reeds die verhoog met talle groot name gedeel, waaronder Chris Chameleon, Elvis Blue, Laurika Rauch, Corlea Botha, Coenie de Villiers, Steve Hofmeyr, Bobby en Karlien van Jaarsveld, om net ’n paar te noem.
Verder is dié blondekop ook ’n gereelde gesig by groot musiekfeeste, soos die Diasfees, Naartjiefees, KKNK, Bushlapa Musiekfees en meer. Sy het ook al vertonings saam met Pieter Koen en Willem Botha se kykNET-skoletoer gedoen.
Omdat sy ’n voorliefde het vir jazz en swing, vind sy aanklank by kunstenaars soos Dean Martin, Ella Fitzgerald, Frank Sinatra en Katie Melua. Sy sonder hulle uit as van haar grootste musiekinvloede.
SUNEL is ’n groot troeteldiereliefhebber wat daarvan droom om eendag ’n veilige hawe te stig vir mishandelde en weesdiere. As sy nie bevoorreg genoeg was om daar musiekdroom te kon volg nie, verklap die sangeres dat sy graag ’n professionele grimeerkunstenaar of sielkundige wou wees, omdat sy daarvan hou om na mense te luister en raad uit te deel.
SUNEL se debuut-album sal aan die einde van Mei 2019 vrygestel word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'