MOSSELBAAI NUUS - Die inwoners van Gys Smalbergerstraat in Mosselbaai se onderdorp is sterk gekant teen ’n dranklisensieaansoek in dié straat.
Daar is tans ’n kennisgewing wat aandui dat Patrick’s Pub and Restaurant (Edms) Bpk (geleë in Marshstraat agter die betrokke perseel) ’n aansoek vir ’n dranklisensie vir Gys Smalbergerstraat 16, ook bekend as The Workshop, ingedien het.
Dié tipe aansoeke word by die Wes-Kaapse drankowerheid en die aangewese drankbeampte by die polisie ingedien. Die kennisgewing is op 25 April gepubliseer.
Vir 28 dae vanaf dié datum het die publiek dan die kans om hul teenkanting of ondersteuning daarvoor aan te dui.
Paul Els, wat namens die straat se inwoners praat, sê hulle het reeds ’n beswaarskrif ingehandig wat hulle kwessies saamvat.
Dit behels onder meer dat die inwoners (insluitende skofwerkers en kinders) naby Patrick’s en The Workshop reeds aan geraas en klante onder die invloed van alkohol blootgestel word. Hulle meen vroeër klagtes om dit aan te spreek was onsuksesvol.
Gys Smalberger is ook ’n eenrigtingstraat met beperkte parkering vir inwoners. Die inwoners vermoed die goedkeuring van die lisensie sal die parkeerprobleem net vererger. Hulle sê ’n toename in die straatverkeer sal die kinders, wat dikwels buite speel en fietsry, se veiligheid ook beïnvloed.
Die beswaarskrif wys ook uit dat daar skole naby dié gebied is.
Die inwoners meen ’n toename in voete sal die leerders wat na en van hulle skole beweeg negatief beïnvloed, aangesien meer mense meer gemors sal produseer - hulle sê vullis en gebreekte bottels is reeds iets waarmee die gebied sukkel.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het bevestig die betrokke erf is onder Besigheidsone I gesoneer, met die primêre reg om ’n drinkplek te bedryf onderhewe aan die bepaling dat geen geraas van harde musiek/klank na 22:00 gegenereer word nie.
“Dit is ook onderhewe aan die nakoming van enige ander relevante wetgewing en/of prosedures van toepassing op die voorgestelde gebruik,” sê die munisipaliteit.
Die aansoeker is genader vir kommentaar oor die inwoners se klagtes en die beplande gebruik vir The Workshop se perseel. Sodra dit ontvang word sal dit ook gepubliseer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’