Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS & VIDEO - Ella Losper (67) se hande maak al vir net so duskant 'n halfeeu lank roosterkoek.
"Ek is 'n Karoonaar, en my ma [Katryna Prins] het my van 18 jaar af geleer roosterkoek braai. Toe mamma dood is, toe vat ek my baby suster [Martha Wyles]; nou ek het háár weer geleer.
“Nou braai ek en sy so vir die mense brood," vertel tannie Ella terwyl sy met die deeg doenig is.
Sy maak nie gewoonlik hierdie gesogte brode op 'n Dinsdag nie, maar hoe dan nou beter die proses verduidelik as wanneer die deeg nog in jou hande is? Mossel Bay Advertiser het dié middag by haar in Laventelstraat, Wolwedans, gaan aanklop.
Martha kon weens werk nie Dinsdag kom help nie, maar buurvrou Amelia Steyn was gereed om handjie by te sit. En handjie bysit doen jy letterlik - daar is niks van braaitang gebruik hiér nie.
VIDEO: Só maak jy roosterkoek
Terwyl tannie Ella die deeg met haar vingers platdruk en dan in reghoeke sny, verduidelik sy - en laat die proses heel eenvoudig klink.
Ella se hande weet van roosterkoekdeeg.
"Jy gooi jou meel in jou bak, en dan gooi jy yeast in (as ek 'n 2,5 kg pak meel vat, dan vat ek 'n pakkie yeast), en dan gooi ek 'n bietjie sout en so 'n bietjie suikertjies, dan rys hy gou.
Hiér verduidelik sy hoe jou deeg moet wees voor jy dit braai.
“Hy kan nie te pap wees nie, en hy kan nie te styf wees nie - is die jare se ondervinding," wat jou laat weet wanneer hy net reg is vir braai.
"Huh uh, ek is al te gewoond aan hom," sê sy as jy vra of dit moeilik is, maar: "Vir 'n beginner gaan dit seker moeilik wees..."
Soos sy die deeg stuk-stuk sny, word die reghoekies netjies op die rooster neergelê en gemonitor.
Roosterkoeke in wording.
Met tye is daar tot 10 roosterkoeke (in verskillende fases van gaar) wat hulle dophou en met die vingers omdraai soos nodig. Dan dié kant toe, dan dáái kant toe, tot al die kante 'n ligbruin kleur het.
Buurvrou Amelia Steyn by die kole doenig.
Tannie Ella maak die roosterkoeke op hulle sye staan. In die agtergrond hou haar kleinseun, Eli, hoopvol dop.
Interessant genoeg is dit egter nie die kleur wat vir jou sê hy is gaar nie - hulle weeg hom so met die hand. Wanneer hy die regte kleur én die regte 'ligte' gevoel het, dán is hy reg.
Vars en warm van die kole af is hy natuurlik ook op sy lekkerste. "So 'n lekker bietjie jêm en 'n stukkie botter, jissou, dan smaak hy vorentoe!" sê buurvrou Amelia.
’n Heerlike stapeltjie van tannie Ella se vars roosterkoeke.
Tannie Ella is oorspronklik van Calitzdorp af en reken roosterkoeke is 'n eg Karoo-ding. Maar sy sê die mense hier rond gaan vreeslik aan oor hierdie lekkerte, so sy maak en verkoop maar soos die aanvraag daar is.
Wanneer dit rugbytyd in Groot-Brak is, word daar roosterkoek gemaak; wanneer daar basaar is, word daar roosterkoek gemaak; en op talle ander geleenthede ook.
Een inwoner, Barry Jacobs, het haar sommer Groot-Brakrivier se eie Roosterkoekkoningin gedoop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’