TUINROETE NUUS - Een van die bekendste Afrikaanse skrywers en skryfikoon van die Suid-Kaap, Dalene Matthee, is Saterdag, 20 Februarie in die Knysna-bos vereer toe die FAK Kultuurnetwerk Mosselbaai-tak 'n kranslegging daar gereël het, 16 jaar nadat sy op 20 Februarie 2005 oorlede is.
Dalene, wat vier bosboeke geskryf het, het dikwels die plek, waar daar vandag 'n gedenkteken vir haar staan, by Krisjan-se-nek gaan inspirasie soek. Hier het sy na die bos geluister en seker gemaak dat sy die natuur in haar werk vasvang.
Haar vier bosboeke, naamlik Kringe in die Bos, Fiela se Kind, Moerbeibos en Toorbos het oral opslae gemaak en in 2008 het haar boeke die een miljoen merk vir verkope verbygesteek. Kringe en Fiela is ook in verskeie Europese tale vertaal. Tans is Toorbos, wat in 2003 geskryf is se rolprentweergawe op almal se lippe as 'n moontlike Oscar 2021-wenner.
Die rolprent is Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Beste Internasionale Rolprent by die Oscar Academy Awards 2021.
Baie spesiaal van die dag se herdenking was die staaltjies wat haar broerskind, Alta Scott van Klein-Brakrivier gedeel het.
Alta en haar ma, Mineè het saam 'n krans, wat deur Alta gemaak is, gelê. Alta se pa Hardy Scott was 'n bekende onderwyser by Hoërskool Punt. Hy was die jongste van die vyf kinders en Daleen die tweede jongste. Volgens Alta was die twee glo gruwelooslik ondeund en 'n mens kon hulle glad nie in boksies pak nie.
"Miskien vandaar my 'Alta-rnatiewe' streep," het sy laggend bygevoeg. Volgens Alta het tannie Dalena, soos hulle na haar verwys het, hulle behoorlik stout gemaak.
Alta se vertellings oor haar tante was deerniswekkend, dog humoristies en Mineè het verdere interessante feite bygevoeg.
Nog ' n hoogtepunt tydens die uitstappie was die Magaliesberg se Aandlied uitgevoer deur die formidabele Petronel Baard wie se stem die bos gevul het. Ander instansies wat ook kranse gelê het, was die Mosselbaai Dameskring (Elize Barnardt en vriendinne), die FAK Netwerk se voorsitter, Denise
Lloyd en die energieke span Voortrekkers van George.
Alta, Petronel, Denise en Elize is almal lede van die FAK Kultuurnetwerk, Mosselbaai. Na afloop van die kranslegging en seremonie is Dalene se Kringe In Die Bos-staproete aangepak en daarna is daar piekniek gehou.
Elisma Smith, koördineerder van die FAK se Kultuurnetwerke verdien 'n pluimpie vir die pragtige geleentheid wat sy bymekaargesit het. Soos Denise gesê het, "Sonder ons verlede het ons niks om ons toekoms op te bou nie."
Een van die land se opkomende jong skrywers, Sidney Gilroy, het ook die geleentheid bygewoon.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'