MOSSELBAAI NUUS - Die nuut aangestelde hoof van Diaz Primêre Skool betree haar rol beslis nie te midde van die mees benydenswaardige omstandighede nie, maar Génevieve Gaynore Muller is slaggereed.
Dié skool het 'n prag nuwe kampus ingewy aan die begin van die jaar nadat dit herbou is, maar intussen het Covid-19 sy skaduwee oor die opwinding van 'n nuwe skoolgebou en hoof kom gooi.
'Nooit sou kon dink'
Génevieve is 'n boorling van Bellville en verwerf haar B Ed-graad aan die Kaapse Technikon. Haar 17 jaar in die onderwys, by laer- sowel as hoërskole, sluit ook bestuurservaring in. Sy hou skool op Robertson, Worcester, De Doorns en is die afgelope 10 jaar werksaam op Mosselbaai. Sy was vroeër verbonde aan Ridgeview Primêre Skool as departementshoof en daarna adjunk-hoof by Erika Primêre Skool.
Sy het 'n besonderse passie vir die uitvoerende kunste, veral toneelspel. "By elke skool waar ek werksaam was, het ek 'n dramagroep op die been gebring wat aan geleenthede soos die Artscape-skolefees, Montagu-jeugkunstefees ensovoorts deelgeneem het."
Tans is sy betrokke by 'n nie-winsgewende organisasie The Living Stage Drama Society. "Dit is 'n gemeenskapsdramagroep wat leerders drama-afrigting bied. Die groep bestaan tans uit leerders van skole in Mosselbaai sowel as George."
Sy kom uit 'n "drama-familie", verduidelik sy. "Vroeër jare was my ouers deel van 'n dramagroep, The Cape Flats Players wat gereeld gemeenskapsteater in Mosselbaai kom hou het. Een van die plekke waar hulle opgetree het was die kerk oorkant Diaz Primêre Skool.
"Ek onthou nog, hoe ek saam met my ouers na Mosselbaai gereis het om die begrafnis van die uitstekende akteur, Garron Trim by te woon. Onlangs verneem dat Garron Trim ook 'n oud-leerder van Diaz Primêre Skool was. Toe ek daardie dag die begrafnis bywoon, het ek nooit sou kon dink dat ek eendag skoolhoof van die skool oorkant die pad sou word nie."
Primêre doel
Haar grootste dryfvere in die lewe is haar man, haar ouers en haar kinders. Haar ouers, was oorstelp van vreugde toe hulle hoor van haar aanstelling.
Sy is netso opgewonde oor die pad wat voorlê. "Ek glo dat ek 'n bydrae kan maak om bestaande stelsels te verbeter en dat ons saam as 'n span die skool tot hoër hoogtes sal lei, deur die goeie uit die verlede te neem en daarop te verbeter."
Sy glo dat die primêre doel is om leerders holisties te ontwikkel. "Ons moet onthou dat die laerskool nie die eindresultaat is nie. Hiervandaan gaan die leerders nog hoërskool en kollege toe. Eendag gaan hulle werk en self ouers wees. Ons moet toesien dat hulle hul plek in die samelewing kan vol staan en waardige landsburgers kan wees. Ons moet daardie fondasie lê. Op kurrikulumgebied sal die skool in lyn wees met die visie van die Wes-Kaapse onderwysdepartement en strewe na gehalte onderwys, vir elke leerder, in elke klaskamer."
Sy glo aan deelnemende bestuur. "Ek is vriendelik, maar ferm. Ek weet aan die einde van die dag, the buck stops with me, maar spanwerk is vir my belangrik. As prinsipaal moet jy mense kan vertrou, jy moet kan delegeer. Sodoende word daar ontwikkelingsgeleenthede geskep."
Wat vroue se rol in die onderwys betref meen sy, uit haar ervaring was dit duidelik dat vroue ekstra hard moet werk om hul merk te maak.
"Ons moenie diskrimineer teen ouderdom of geslag nie, maar eerder fokus op dit wat 'n persoon vir 'n skool en 'n gemeenskap kan bied." Sy sê alles draai om die skool se leuse, Word 'n baanbreker.
"Alles wat ons as 'n personeel gaan doen, gaan nie oor ons nie, maar oor Diaz Primêre Skool en haar leerders. Saam sal ons baanbrekerswerk verrig."
Covid-19
Oor Covid-19 het sy nie veel te sê nie, behalwe dat spanwerk die sleutel daartoe is om hierdie onsigbare vyand te klop.
Sy het 'n aanhaling gebruik om haar personeel aan te moedig. "Ek het M Fontaine se woorde so bietjie aangepas. There is a Covid-19 pandemic out there. If we don't work as a team, the virus will win, but if we can learn to work together, we'll win together and be able to enjoy the rewards of victory together."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'