MOSSELBAAI NUUS - Hoe lyk Mosselbaai in die jaar 2050?
Dis die vraag waarmee Dieter Jansen na die Mosselbaai-sakekamer is. Daarna het hy en sy groep vrywillige fasiliteerders namens die sakekamer ’n inisiatief geloods wat die moontlikhede van die toekoms ondersoek.
Op Maandagaand, 29 September, het die span hul negende en finale Vision 2050-werkswinkel afgesluit.
Die doel van dié werkswinkels was om besigheidsleiers, opvoeders, entrepreneurs, nieregeringsorganisasies, die regering en ander sleutelsektore saam te bring met die doel om ’n kragtige, inklusiewe, innoverende en volhoubare padkaart na 2050 te vorm.
Die laaste in die reeks was vir diegene in die landbou- en logistieke sektore. So het elke werkswinkel op spesifieke temas en rolspelers gefokus.
Daar was sessies vir onderwys, medies, professionele dienste, gasvryheid en toerisme, aftrede en organisasies sonder winsoogmerk, sport en gebeurtenisse (events), konstruksie en eiendom, asook film en media.
Deelnemers is in kleiner groepies opgedeel, waarna hulle gevra is om toe oë hulself in 2050 in te dink. Hoe lyk dit, wat doen hulle, wat doen hulle families, ens?
Deelnemers dink hulself in 2050 in.
Met dít in gedagte is hulle gevra om te dink hoe hul sektore en die Mosselbaai van 2050 lyk.
Máár om dit te doen sonder om aan die moontlike hindernisse te dink. Die idee was om so groot te droom as wat jy kan. Dán eers is beperkings en hindernisse bespreek.
Deelnemers bespreek hoe 2050 vir hulle lyk.
Jansen sê interessant genoeg het die idees wat uitgekom het al hoe meer begin belyn soos hulle met die werkswinkels aangegaan het.
Hy en die res van die fasiliteerders, Francois Botha, Petro Bezuidenhout, Lindie Edwards en Beyers Kleynhans, deel elk minstens een gevoel ná hul betrokkenheid by dié proses: opgewondenheid oor die toekoms van Mosselbaai en sy plek in die Tuinroete.
Die volgende stap is nou om die inligting wat hulle in elke sessie ingewin het, saam te stel en te analiseer. Daarna sal hulle by ’n sakekamergeleentheid in Maart hul terugvoering aanbied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’