Met hierdie boodskap het Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, die jong seekadette op Saterdagoggend, 3 Mei, tydens die amptelike opening van die TS Outeniqua begeester.
Beide ervare en nuweling seekadette het die oggend begin met 'n optog deur D' Almeida se strate, begelei deur die Mosselbaai Gemeenskapsorkes, onder leiding van Trommer Majoor Matth Domingo.
Die luisterryke geleentheid is bygewoon en ondersteun deur seekadette van die TS Knysna, die bevelvoerende offisier van TS Knysna, (SK) lt kmdr Steve Eriksen en die bevelvoerende of-fisier van die TS Woltemade in Kaapstad, (SK) kpt Phillip Muller.
Nadat die seekadette se eed deur seekadet Maré Franken voorgelees is, het Burgemeester Ferreira ook die amptelike saluut waargeneem en die parade geïnspekteer. Sy het die jongmense geluk gewens met hul keuse om by die seekadette aan te sluit en die geleentheid om opleiding in vaardighede te ontvang, aan te gryp.
"My dank gaan ook aan die leierskorps van die TS Outeniqua, wat hul tyd, ervaring en kennis met die jeug deel, selfs al gaan dit met persoonlike opofferinge gepaard," het mev Ferreira bygevoeg.
Sy het gesê dit is gedissiplineerde en ervare jongmense wat die toekoms van ons land in hul hande hou.
"Julle toekoms lê in die keuses wat julle maak, dra jul vaandel met trots en weet dat ons trots is op julle!" het mev Ferreira afgesluit.
Die bevelvoerende offisier van die TS Outeniqua, (SK) sub luitenant Thurston Amsterdam, het die seekadette vir hul toewyding en dissipline bedank. Die groot aantal jong, nuwe kadette het veral met hul drilwerk, na net 'n paar oefensessies, beïndruk.
Die bevelvoerende offisier van die TS Woltemade in Kaapstad, (SK) kpt Phillip Muller, het dit benadruk dat die jongmense se betrokkenheid by die seekadette hulle voorberei vir 'n loopbaan in die mariene omgewing, en nie noodwendig in die SA Vloot nie.
"Met harde werk, dissipline en die vaardighede wat by die seekadette aangeleer en onder die knie gekry word, sal werksgeleenthede vir hierdie jongmense bestaan. Harde werk, dissipline en vaardighede verseker sukses."
Die bevelvoerende offisier van TS Knysna, (SK) lt kmdr Steve Eriksen, het veral mnre Paul Vierra en Wally Maritz bedank vir hul bydrae om weer die seekadette in Mosselbaai te laat herleef en sy ondersteuning vir die eenheid bevestig. Hy het ook bekend gemaak dat (SK) lt Van Reened van die TS Knysna hom eersdaags by die TS Outeniqua sal aansluit.
Die dag is afgesluit met 'n skouspelagtige vertoning van presisie drilwerk deur die TS Knysna, waarna ouers en kadette die kans gehad het om informeel saam te kuier oor verversings.
Vir meer inligting oor die Seekadette program, kontak Juwariah Syster by 083 463 9702 of Trevonia Scheepers by 073 007 0306.

Die nuweling seekadette se drilwerk het getuig van harde werk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'