GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Ek is nie Danie, die jongste bloemlesing van die digter Danie Marais, is tydens die Grootbrak Leeskring se onlangse byeenkoms bespreek.
Jonathan Amid, boekresensent en gereelde gesprekleier by boekfeeste, het by dié geleentheid met Marais gesels.
Die bloemlesing is ’n keur uit Marais se vier vorige digbundels (In die buitenste ruimte, Al is die maan ’n misverstand, Solank verlange die sweep swaai en Ek en jy bestaan nie) en bevat een nuwe gedig as inleiding.
Die versameling sluit volledige weergawes van die 18 gedigte in wat tot die toneelstuk van dieselfde naam verwerk is. Ek is nie Danie, die toneelstuk, onder regie van Nico Scheepers, met spel en sang deur Albert Pretorius en musiek deur Schalk Joubert, het vanjaar ses Fiësta-toekennings ingepalm.
Verder het Marais ook al verskeie van die literêre wêreld se toppryse vir sy verskillende werke ontvang.
In ’n inligtingstuk wat tydens die byeenkoms beskikbaar gestel is word genoem dat Marais se gedigte intieme gesprekke met die leser aanknoop - oor ontheemding in die buiteland, verlange, morsige liefde, gefnuikte verhoudings, ouerskap en die verwarspul van middelklasverknorsings in ’n skisofrene, verskeurde Suid-Afrika.
Die leeskring se volgende byeenkoms word op 14 Mei om 09:15 vir 10:00 in die NG Groot-Brakrivier se kerksaal gehou. Elise Bishop se werk sal hier bespreek word. Die toegangsfooi is R100 vir lede en R120 vir gaste. Navrae: Etty Bosman by 083 501 0845.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’