GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier se ganse gaan vanuit die riviermond verwyder word.
Dit is volgens ’n verklaring van die Mosselbaai-munisipaliteit.
Mossel Bay Advertiser het al talle kere sedert Oktober 2023 oor hierdie teer kwessie berig, met insae van verskeie betrokke partye insluitend Cape Nature, die munisipaliteit, die Groot-Brak Riviermondforum, die DBV en die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
In sy verklaring vandag, 27 Augustus, sê die munisipaliteit hy het ’n formele versoek van die departement ontvang om “voort te gaan met die verwydering van die wilde ganse”.
Verskeie rolspelers ten gunste van die verwydering het op vorige geleenthede die ganse se negatiewe impak op die omgewing uitgelig. Talle inwoners is egter sterk gekant teen hierdie verskuiwing.
Die munisipaliteit sê die versoek van die departement kom na volgehoue kommer en klagtes van inwoners en omgewingsbelanghebbendes rakende die toename en onbeheerde teling van ganse langs die rivieroewer.
Die munisipaliteit sê verder, terwyl hy erken dat baie inwoners dit geniet om die ganse, eende en ander voëls in en rondom die riviermond te sien, “is dit belangrik om tussen inheemse en wilde spesies te onderskei”.
Bedreigings in terme van die ganse se teenwoordigheid sluit volgens die munisipaliteit die volgende in:
• die verspreiding van siektes aan inheemse wild
• kompetisie met inheemse spesies vir kos en habitat
• skade aan skaars en bedreigde ekosisteme wat reeds onder druk is
Buiten die impak op die omgewing, sê die munisipaliteit die ganse se welstand is ook op die spel. Hy sê die diere ontvang nie behoorlike sorg nie en moet dikwels vir hulself sorg sonder toegang tot veilige kos, skuiling of veerartssorg. Hy sê ook verskeie ganse is al op provinsiale paaie beseer of doodgery.
Die munisipaliteit sê hy sal nou met die DBV saamwerk vir die verwydering. “Hierdie vennootskap sal verseker dat enige metodes wat gebruik word nie-skadelik en in lyn met beste praktyke vir dierewelsyn is.”
Dit is nog nie duidelik wanneer of waarheen die ganse verwyder sal word nie.
Die DBV sê hy het nog nie enige kommunikasie van die munisipaliteit af ontvang rakende die ganse nie, maar wag vir ’n direktief.
Vorige artikels:
• The Great (Brak) geese debate
• Bid to move geese thwarted
• Great Brak geese: SPCA grateful for community's passion
• Fate of Great Brak geese to be reassessed in 2024
• Meeting held about geese
• Great Brak geese to get new home
• Gans te veel geld, regulasies vir ganse, sê grondeienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’