GROOT BRAK NUUS - Die ganse op Groot Brak is steeds 'n sensitiewe kwessie in dié gemeenskap na daar tydens samesprekings verlede jaar besluit is om hulle te verskuif.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het verlede week 'n verklaring uitgereik oor die stand van sake rondom die hervestiging van die ganse.
"Tydens 'n vergadering vroeër vanjaar is dit bevestig dat die ganse deur 'n grondeienaar langs die riviermond ingeneem sal word. Weens onvoorsiene omstandighede kon die grondeienaar nie voortgaan met die hervestiging nie."
'n Ander Groot Brak inwoner het egter daarna gesê hy sal eienaarskap van die ganse neem.
Die aanvanklike grondeienaar, Hennie Booyens, het vandeesweek gesê dit is egter nie so eenvoudig soos "onvoorsiene omstandighede" nie.
Hy sê hy was meer as bereid om die ganse in te neem, maar dat daar vereistes gestel is van onder meer 'n omgewingsimpakstudie, wat duisende rand sal kos - die geld sou uit sy sak moes kom. Verder was daar 'n reeks ander regulasies waaraan hy sou moes voldoen.
Booyens sê soveel mense as wat daar was wat hulle insae in die saak gegee het, gemeenskapslede ingesluit, so min is daar wat regstaan om te help wanneer kostes ter sprake is.
Die Mossel Bay Advertiser het 'n navraag aan die Wes-Kaap se departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gerig omtrent die vereistes, asook of die toekomstige eienaar aan dieselfde onderhewig sal wees en of hy dit sal kan nakom.
Kontrole omgewingsbeampte, Caren George, sê die departement het die relevante wetgewing en vereistes aan Booyens gekommunikeer asook aan al die lede van die Groot Brak Riviermondforum.
"Die Groot Brak Bewarea was teenwoordig by die forum vergadering en is in kontak met die persoon wat die ganse in 'n veilige omgewing sal inneem.
Die ganse sal in 'n gepaste omgewing (volgens DBV vereistes) gehuisves moet word en enige verwante kostes, insluitend die vervoer, veeartssorg en kos, sal vir die persoon/grondeienaar se sak wees."
Volgens die munisipaliteit se aanvanklike verklaring sal die vangs van die ganse deur die DBV behartig word en alle voorsorg sal getref word om die ganse se welvaart te verseker.
Die Advertiser het vantevore oor die situasie rondom die ganse berig, met insae van verskeie betrokke partye insluitend Cape Nature, die Mosselbaai-munisipaliteit, die Groot Brak Riviermondforum, asook die DBV.
Die algemene konsensus is dat die ganse verskuif moet word weens hulle negatiewe effek op die omgewing.
Talle gemeenskapslede is egter sterk gekant teen die verskuiwing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’