Breaking News Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - 'n Optel hond van Groot-Brakrivier, Trixie, het haar eienaars slapelose nagte gegee toe sy op pad na 'n hondesalon waar haar naels geknip sou word, in Langstraat by die voertuig uitgespring het.
Dit het gebeur kort nadat die voertuig in die besige straat stil gehou het.
Trixie is haar eienaars, Attie Nel en Sophia Loots, se hart se punt en was sedert Vrydag, 5 Januarie, skoonveld.
Die tefie het 'n spesiale plek in Sophia se hart juis omdat sy haar oor die hond in 2015 ontferm het. "Sy was aan 'n baie kort tou by 'n woning buite Groot-Brakrivier vasgemaak en het geen beweegruimte gehad nie."
Sophia sê hulle het daagliks verby die gebied waar die hond vasgemaak was, gery en sy het elke dag vir Trixie kos uitgesit, totdat Trixie self na haar toe gekom het. "Vandaar die naam Trixie. Ek het haar 'getrick'."
Kort nadat Trixie uit die voertuig gespring het, het Sophia haar na sosiale media gewend en 'n beroep op inwoners van die omgewing gedoen om op die uitkyk vir haar geliefde hond te wees.
Attie sê Trixie se verdwyning het omtrent spanning in die huishouding veroorsaak en Sophia het die dae omgehuil. Attie het dae en nagte lank na Trixie gesoek.
VIDEO: Louise Karsten
Intussen het 'n mede-inwoner, wat in Bergsig ook van die hartseer verhaal te hore gekom, Ria Kirsten, gesê haar man het 'n hond in die bosse oorkant hul huis gesien en hulle het dadelik vermoed dat dit dalk Trixie kan wees.
"Ons het drie Yorkies en een aand het my hondjies regop gespring en in die bosse se rigting gestaar en gegrom. Ek het vir my man gesê dit moet Trixie wees wat in die bosse skuil."
Ria sê hulle het die gebied dopgehou en sy het self na die beboste gebied gestap en na Trixie geroep.
Sy sê sy kry nou nog hondervel as sy aan die oomblik terugdink toe Trixie vanuit die bosse, vyf dae nadat sy vermis geraak het haar verskyning maak.
"Ek het vir haar water en sommer van my honde se pille neergesit en dadelik vir Sophia laat weet dat ons vir Trixie gevind het."
Trixie is kort daarna met Attie en Sophia herenig nadat Attie na die gebied toe is. Trixie het dadelik op haar ruggie gaan lê sodat Attie oudergewoonte haar maag kon vryf.
Die gemeenskap van Groot-Brakrivier het hande geneem en 'n plaaslike troeteldierwinkel het 'n beloning uitgereik vir enigeen wat Trixie vind. Die beloning is aan Ria oorhandig.
Die diereliefdadigheidsorganisasie, Caws 4 Paws het Sophia ook bygestaan en sy het intussen begin om handgemaakte rose te maak. Sy verkoop dit vir R30 en skenk elke R10 aan Caws 4 Paws.
'n Plaaslike veearts by Croft Dierehospitaal het, nadat Trixie gevind is, die ekstra toontjie wat sy aan elke agtervoet gehad het, gratis tydens 'n operasie verwyder.
Trixie het die afgelope week met die Mossel Bay Advertiser se besoek aan haar woning in Kortstraat steeds na haar operasie herstel, maar dit was duidelik dat hondekind gelukkig is om met haar mense-ouers herenig te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’