MOSSELBAAI NUUS - Die tuine by die Groot-Brakrivierstasie is in 2019 "herontdek" en nadat toestemming van Transnet verkry is, het 'n groep plaaslike natuurliefhebbers die Groot Brak Bewarea gestig en begin om 30 jaar se oorgroeide en uitheemse plantegroei met pangas weg te kap en vragte vol rommel wat daar opgehoop het, weg te ry.
Hoewel die tuine nou oopgestel is vir besoekers, is Groot Brak Bewarea steeds besig om 'n ry strelitzias wat in die 1960's aangeplant is, tot hul vorige glorie te laat groei.
Volgens Vivienne Fry wat aan die voorpunt is om die tuine te bewaar, sal hulle nooit weer die tuine kry soos dit dekades gelede gelyk het nie.
"Maar dit is 'n vreugde om nou deur die tuine te stap. Ons het die staproete opgeknap en nuwe bankies opgerig. Ons het ook 'n brug gebou en naamplate op die bome gesit wat ons kon identifiseer."
Die opknapping van die stasietuine is vrywillig en word deur Groot Brak Bewarea gefinansier. Toeriste wat met die Dias Express vanaf Hartenbos na Groot-Brakrivier-stasie reis, kan gerus die tuine en die labirint en Uhuru beeldhouwerk langs die Opispoor-restaurant besoek wat binne loopafstand van die stasietuine is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’