Gallery
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die I am Able veldtog was hierdie week in volle swang met verskeie belangegroepe wat op Dinsdag, 18 April, voorleggings aan raadslede van die Mosselbaai-munisipaliteit gedoen het om bewustheid aan te moedig en sodoende die lewens van gestremdes te verbeter.
Die projek is deel van die Outisme Bewusmakingsveldtogte, wat wêreldwyd gedurende April gehou word.
FOTOGALERY: I am Able veldtog se voorleggings
Diane Hobbs, direkteur van die ETHAN-projek (Education and Training Hub for Autism Needs) vertel dat die I am Able veldtog op 17 April begin het met konsertvertonings en werksessies, waar persone met gestremdhede uit hul eie perspektief uitdagings en probleme kon identifiseer.
Verteenwoordigers van die verskillende differently able groepe het op Dinsdag, 18 April, die Mosselbaai-munisipaliteit se raadslede ingelig oor elke groep se uitdagings en behoeftes.
Volgens Hobbs is daar goeie vordering gemaak met die grondlegging vir dit wat benodig word.
"Dit was 'n baie suksesvolle dag. Ons het so baie bereik deur die gesamentlike voorlegging waar elkeen se stem gehoor is. Ek is baie trots op my seun, Ethan Hobbs, wat sy debuut in die openbaar gemaak het en in sy eie woorde vertel het wat hy ervaar en benodig, hoewel hy non-speaking is.
"Ons het van mense in rolstoele, visueel gestremdes en nie-winsgewende organisasies gehoor wat betrokke is met die fisiese versorging van gestremdes.
"Die Mosselbaai-munisipaliteit se raadslede is absoluut fantasties en het geluister na ons voorstelle. Ons het begrip daarvoor dat hulle ook beperkte fondse het, maar die meelewing en samewerking is belangrik," het Hobbs gesê.
Elize Nel, direkteur gemeensdienste van die Mosselbaai-munisipaliteit, het die inisiatiewe verwelkom wat deur die verskillende groepe voorgelê is. "Ons weet dat die departmente van Sosiale Ontwikkeling en Gesondheid finansieel sukkel en ongelukkig het die munisipaliteit nie 'n mandaat vir hierdie tipe ontwikkeling nie, maar ons wil help om vennootskappe daar te stel, mense bymekaar te bring en om van die drome wat vandag uitgespreek is, 'n realiteit te maak.
"Van die behoeftes en uitdagings wat geopper is, kan moontlik deur die munisipaliteit se groei-strategie om die ekonomie, bestuur, sosiale herlewing, veiligheid en die omgewing te bevorder, hanteer word.
"Die voorleggings skakel goed hierby in en ons het gehoor van die uitdagings waarmee mense wat 'anders' (differently abled) is, daagliks mee worstel. Die raad sal moet kyk hoe ons hulle kan help en in die gemeenskap betrek. Ons het byvoorbeeld die Gesamentlike Operasionele Sentrum (JOC) waar persone wat gestremd is in diens geneem word om sekere take te verrig.
"Die Mosselbaai-munisipaliteit het 'n doelwit om Mosselbaai 'n vriendelike dorp te maak.
"Dit gaan nie daaroor om vir mense te glimlag nie, maar om die dorp kinder-, gesins-, gestremd- en bejaarde-vriendelik te maak. Ons streef ook daarna om Mosselbaai die eerste outisme-vriendelike dorp in Afrika te maak. Die sertifikate wat vandag hier uitgedeel is aan die eerste reageerders of voorlopers, is vir opleiding vir mense wat direk met die publiek werk, soos in biblioteke, korrektiewe dienste, die verkeersdepartment en mediese dienste," het Nel gesê.
VIDEO - Diane Hobbs, director of the ETHAN Project (Education and Training Hub for Autism Needs) .
VIDEO - Elize Nel, Direkteur van Gemeenskapsdienste, Mosselbaai-munisipaliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’