Update
MOSSELBAAI NUUS - Elani Pretorius en haar twee seuns, Jax en Kai, het veilig in Nebraska in Amerika aangekom, waar hulle nou by haar man, Hugo, is om hom tydens sy herstel te ondersteun.
Mossel Bay Advertiser het onlangs berig oor Pretorius wat ernstig beseer is in ’n fratsongeluk op ’n plaas in Nebraska.
Hy was op 21 Julie besig om ’n pomp van ’n spilpuntbesproeiingstelsel te installeer toe die dryfas in die middel gebreek het.
Die gebreekte deel van die dryfas, asook die beskermingsplaat, het Pretorius aan sy arm en onderlyf getref en hom ernstig beseer.
Elani het die afgelope week aan die Advertiser gesê hulle gesin is met ongelooflike liefde en deernis deur die plaaslike gemeenskap ontvang.
“Ons is opreg dankbaar vir elke persoon wat vir ons bid, ons bemoedig en op hierdie reis saam met ons stap. Die liefde wat ons ervaar, is moeilik om in woorde te beskryf,” sê sy.
Pretorius is steeds in die hospitaal, waar hy nog verskeie operasies sal moet ondergaan.
Dokters kon tot dusver nog nie ’n definitiewe diagnose maak nie, en hy sal na verwagting nog ’n geruime tyd in die hospitaal wees terwyl verdere ondersoeke en behandeling voortgaan.
Ten spyte van die onsekerheid sê Elani haar man se geloof en gesindheid is onwrikbaar.
“Hy bly positief en fokus daarop om ander hoop te gee, selfs terwyl hy self een van die grootste uitdagings van sy lewe deurmaak.”
Volgens haar is Pretorius se grootste gebed dat God hierdie moeilike omstandighede tot voordeel van ander sal gebruik.
“As hierdie getuienis net een persoon se lewe kan verander of een persoon nader aan Jesus kan bring, dan was dit alles die moeite werd.”
Die gesin vra dat mense sal aanhou bid vir wysheid vir die mediese span, vir duidelike antwoorde, vir Pretorius se komende operasies en vir sy volledige herstel. Hulle spreek ook hul opregte dank uit teenoor elkeen wat hulle met gebed, liefde en ondersteuning omring.
Vorige artikel:
Mosselbaaier ernstig beseer in fratsongeluk op plaas in Amerika
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’