MOSSELBAAI NUUS - Die George Mannekoor het verlede jaar hul 40ste bestaansjaar gevier, en ook in Julie 2022 'n nuwe koordirekteur, Chrisna du Preez, verwelkom.
Na optredes met die bekende Pallisander Koor, 'n gesamentlike optrede by 'n geleentheid gereël deur die Choral Celebration Network Foundation en verskeie ander uitvoerings, is die immergroen en gewilde Mannekoor nou meer besig as ooit.
Nóg konserte en optredes wink vir die res van 2023.
Een van die hoogtepunte tot dusver was die Mannekoor se onlangse optrede by die Nasionale Mannekoorfees in Bloemfontein waar die koor saam met vier ander kore die verhoog gedeel het. Die George Mannekoor was met 'n staande ovasie toegejuig ná sy optrede.
Die George Mannekoor is ook genooi om deel te wees van die Mosselbaai Kunstefees. 'n Wye verskeidenheid van tradisionele- en ook gewilde mannekoor-liedere sal deel uitmaak van die vertoning. Musikale verwerkings van Andrew Lloyd Webber se blyspele sal ook deur 'n plaaslike soloïs weergegee word.
Van die ander verrassings sal insluit die optrede deur Mosselbaai se eie burgemeester, Dirk Kotzé, wat daartoe ingestem het om by die koor aan te sluit. 'n Geleentheid wat nie gemis moet word en om sy talente ook op ander gebiede te kan geniet.
Die konsert vind op 2 September om 18:00 in die Klipkerksaal van die Mosselbaai NG Moedergemeente in Kerkstraat plaas. Toegang is gratis, maar donasies sal verwelkom word. Vir navrae en besprekings stuur 'n WhatsApp of stemnota aan Liezle Nel op 072 903 2995.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’