MOSSELBAAI NUUS - Stephna Maré (70), ’n jare lange en welbekende sekretaresse van die Arbeidsbediening, is onverwags op 1 Junie oorlede weens ’n gebarste bloedvat in haar brein.
Sy was sedert 2010 die sekretaresse by die Arbeidsbediening op Mosselbaai. “Maar vir dié van ons wat haar geken het, was sy veel meer as net ’n sekretaresse,” sê Blackie Swart, die voorsitter.
“Sy was die hartklop van die kantoor, altyd vriendelik, altyd bereid om te help, altyd daar met ’n glimlag of ’n bemoedigende woord. Haar liefde vir mense het deur alles wat sy gedoen het, gewys.
“Of dit nou ’n administratiewe taak was of net ’n luisterende oor, Stephna het elke mens met respek en warmte behandel. Sy was liefdevol, eerlik en opreg - eienskappe wat in vandag se wêreld skaars geword het.”
Swart sê haar heengaan laat ’n groot leemte, in Arbeidsbediening en in die lewens van die mense wat haar geken het.
Sy word oorleef deur haar seun, Stephan, sy vrou, Vivian, twee kleinseuns, Zander en Johan, en haar suster, Magdel Darlington.
Haar gedenkdiens vind Woensdag, 11 Junie, om 14:00 by die NG Moedergemeente Mosselbaai plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’