Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die eerste wettige padblokkade, wat binne 'n woonbuurt gehou is, is op Saterdag, 6 Mei, deur die Seemeeupark-buurtwag gehou.
Dié inisiatief is ondersteun deur Seemeeupark Ondersteuningsnetwerk en die blokkade is in Wassenaarstraat oorkant die Seemeeuvlug-kompleks opgestel.
FOTOGALERY: Seemeeu Park Buurtwag
Volgens Quintin Greyling, voorsitter van die buurtwag, het verskeie rolspelers insluitend die polisie, verkeer, MSec-sekuriteit en lede van die buurtwag die afgelope Saterdag dié blokkade van14:00 tot 18:00 beman.
"Ons hoofdoel was nie soseer om kriminele elemente vas te vat nie, maar eerder om ons inwoners bewus te maak dat ons omsien na hul veiligheid en om sigbaarheid te verhoog," vertel Jacques Mostert, ondervoorstitter van die buurtwag.
Die Seemeeupark-buurtwag, met ongeveer 30 aktiewe lede, het vir bykans 'n hele jaar geen inbrake gehad tot 'n onlangse poging tot inbraak so week of twee gelede. Volgens Mostert doen MSec sporadiese patrollies gedurende die dag, en voltydse patrollies deur die nag op weeksdae. Dié patrollies word deur die Ondersteuningsnetwerk befonds.
Buurtwag-patrollielede sien toe dat voltydse patrollies gedurende die aande en oor naweke plaasvind. In noodgevalle sal die buurtwag se reaksie-eenheid geaktiveer word. Hulle het ook hul eie radio- en kameranetwerk. Die buurtwag sal ook binnekort met sy eie operasionele kamer kan spog sodra dit voltooi is.
Sommige patrollielede het ook onlangs gevorderde eerstehulp-kursusse ondergaan, en kan bystand bied in sekere mediese noodsituasies. "Ons het baie goeie samewerking met ons gemeenskap en met verskeie inisiatiewe, soos die een blink ons uit," sê Mostert.
VIDEO - Wettige padblokkade deur buurtwag gehou (Video: Jannie du Plessis).
Jacques Mostert, ondervoorstitter van die Seemeeupark-buurtwag praat hier met verkeersbeamptes tydens die eerste wettige padblokkade in 'n woonbuurt deur 'n buurtwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’