EDEN-STREEK NUUS - Die Eden-streek se toutrekspanne het Saterdag 4 Julie hul staal by die Wes-Kaapse Toutrekkampioenskappe gewys en met 'n indrukwekkende medalje-oes huis toe gekeer.
Die kampioenskap is vanjaar met groot sukses deur die Overberg-streek aangebied, waar altesaam 78 spanne uit die Overberg-, WP Wynland- en Eden-streke meegeding het.
Volgens Kittie Terblanche van Eden-toutrek was sterk mededinging, uitstekende sportmangees en hoë gehalte toutrek aan die orde van die dag.
Eden het verskeie podiumplekke behaal, waaronder die 540 kg-vrouespan uitgestaan het met 'n goue medalje wat hulle die Wes-Kaap-kampioene in hul afdeling gemaak het.
Die streek se ander uitslae was:
• 680 kg-mans - silwer
• 600 kg-mans - brons
• 640 kg-mans - brons
• 580 kg- gemengde span - silwer
• 500 kg-vrouespan - silwer.
Die organiseerders het hul gelukwense aan al die deelnemende spanne, afrigters, beamptes en die Overberg-streek oorgedra vir 'n suksesvolle kampioenskap.
Die Eden-spanne berei hulle nou voor vir die Suid-Afrikaanse Toutrekkampioenskappe wat op 17 en 18 Julie in Helderberg, Strand, aangebied word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’