MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai skud die vere reg vir een van die lekkerste partytjies nóg om die dorp se status as die Kwêla Dorp van die Jaar 2017 te vier.
Vroeër vanjaar het dorpenaars, hul vriende en familie, vakansiegangers, besighede en mense met gelukkige herinneringe aan Mosselbaai oorweldigend gestem om die dorp bo tawwe kompetisie te laat seëvier, dus kan daar met rede nou feesgevier word.
As deel van die eerste prys borg kykNet se Kwêla-program die dorpsmakietie op Saterdag, 7 Oktober en almal, jonk en oud, word uitgenooi om in die gratis pret te kom deel. Die feesprogram is ook so saamgestel dat dit iets vir almal sal opdis.
Boonop sal Therese Benade met haar Kwêla-kameraspan die dorp besoek om die fees te verfilm sodat dit later uitgesaai kan word.
Die Makietie sal by die Santos-feesarena plaasvind en skop op 7 Oktober om 10:00 af met die aankondiging van die wenners van die Moss March. 'n Marimba-orkes gaan sorg vir die regte gees en die nie-deelnemers sal kan voetestamp saam met die wenners.
Mosselbaai sal met eie kunstenaarstalent kan spog met optredes deur die loop van die dag deur die Angeline's Dance Academy, die 2017-wenners van die Mossel Bay's Got Talent-kompetisie, selfs die Eendrag Volkspele-laer.
Aunty Ethel
Die Mocca-vertoning vanaf 11:45 sluit onder meer kunstenaars in soos die gewilde Indwe-skoolkoor, Mordegai Erasmus, Herbie Michaels en die Mossel Bay Gumboot Dancers.
Sinoniem met Mosselbaai, kan die pittige, onnadoenbare vertoning van Cornelle Carstens as Aunty Ethel werklik nie misgeloop word nie. Soos gewoonlik gaan haar sosiale kommentaar rare waarhede bevat.
Die middagvertoning vanaf 13:10 gaan optredes insluit deur onder meer Chelsea Wales, Ambrosia Muller, G-Minor, Sunel, Tanja Storm, lede van die Dynamic Dance Studio, Mia van The Voice-faam, Mwa en die Prerogative groep wat Keenan Daniëls en Alicia van Wyk insluit.
Aandprogram
Nadat die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die jaarlikse sportfees afgesluit het, sal die aandprogram met die groot kannone in die die vermaakbedryf verseker Mosselbaaiers tot laat laat kuier.
Sien gerus uit na optredes deur Willem Botha, Pieter Koen, Emo Adams en The Voice-wenner Craig Lucas. Die laaste van die sterre sal die feesgangers tot laat op hulle voete hê wanneer Early B die Makietie afsluit.
Die volledige program is by enige van die Mosselbaai-munisipaliteit se kantore en by Mosselbaai Toerisme beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'