MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai DBV vier op 15 September hul 21ste verjaarsdag en beplan 'n baie spesiale promosie om 2 021 sterilisasies geborg te kry. Elke dier wat gesteriliseer word, verhoed dat daar vorentoe baie ongewenste diere is wat moontlik aan mishandeling blootgestel kan word.
Volgens Jeanetta Marais, voorsitter van die Tuinroete DBV, wat die Mosselbaai- en George-takke insluit, bewys statistiek dat een ongesteriliseerde teef en een reun en hul afstammelinge 67 000 hondjies in net ses jaar tot gevolg het.
Die syfers vir katte is egter nog meer vreesaanjaend. Een ongesteriliseerde wyfie en een mannetjieskat en hul afstammelinge kan 370 000 katte in net sewe jaar produseer.
"Dis hierdie feite wat ons noop om baie ernstig oor sterilisasie te besin. Ons gaan probeer om hierdie 2 021 sterilsasies te jaag om sodoende 'n beter toekoms vir al ons honde en katte te verseker," het sy gesê.
Die Mosselbaai DBV het verlede week 'n welkome meevallertjie gekry om hierdie doelwit, wat bykans R900 000 beloop (teen ongeveer R400 per sterilisasie), te verwesenlik. Dankie Lottoland, gewilde televisieprogram op kykNet wat instansies en individue help om menslike uitdagings te help verlig, het kom kuier.
Hannes van Wyk, bekende akteur en aanbieder van Kwêla en Hannes aan Huis het saamgekom. Lottoland het vroeër vanjaar vir Hannes, 'n groot diereliefhebber, aangebied dat hy 'n liefdadigheid kon kies wat hulle dan 'n donasie voor sal gee. Hannes het op Mosselbaai DBV besluit.
"Dit was aaklig vir my om Vrydag so tussen die diere te beweeg en hulle nie almal te kan huis toe vat nie.
"Ek kan sien hulle word besonders goed versorg, maar ek wens hulle kan almal base kry," het hy gesê
Volgens Maryke Haywood, bemarkingshoof Lottoland Suid-Afrika, is dit die eerste keer dat hulle 'n program oor diere maak.
"Ons wil 'n verskil maak in die lewens van Suid-Afrikaners," het sy gesê en bygevoeg dat hulle egter nie Hannes se versoek dat dit vir die diere gaan, kon weier nie." En bygevoeg dat die hele opname 'n belewenis was.
Om dankie te sê vir Hannes se betrokkenheid by die tak se 21ste verjaarsdag promosie, is 'n besonderse kussing aan Hannes oorhandig. Nog 'n kussing is ook aan Maryke oorhandig. Die twee kussings is goedgunstiglik deur die bekende plaaslike kunstenaar, Liani Swanepoel en een van die DBV se komiteelede, Adine Hattingh geskenk. Liani het die pragtige blou kussing geverf en Adine het die een met die honde ontwerp. Die storie agter die geskilderde blou kussing is die van 'n dogtertjie wat 'n weggooihondjie aanneem en hom met 'n sak liefde oorlaai.
Lesers sal voorlopig moet wag totdat die episode op Saterdag, 25 September, uitgesaai word om vas te stel presies hoeveel sterilisasies Dankie Lottoland vir die plaaslike SPCA se verjaarsdagpromosie gaan borg.
"Jy hoef egter glad nie te wag om dit te hoor en sien voordat jy besluit om 'n donasie te maak nie," sê Jeanetta. Volgens haar is enige bedrag welkom.
Hannes het ook ingestem om die gesig van hierdie promosie te wees. Hy moedig dan ook mense aan met die volgende woorde: "They cannot ask, so I am asking. Help me to prevent cruelty by donating for the sterilization of 2 021 furry friends."
Lesers wat wil bydra, kan dit in die volgende rekening inbetaal: Garden Route SPCA, Standard Bank (tjek), rekeningnommer 060 823 216. Takkode 050 214 met verwysing: Hannes.
Alte trots op hulle spesiale kussings (van links) Maryke Haywood, Hannes van Wyk, Nero, die DBV se gelukbringer en Vanessa Barnard, ondervoorsitter van die Tuinroete DBV. Foto: Denise Lloyd
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'