Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - In die 50 jaar sedert Diaz Primêre Skool sy deure geopen het, was daar nog net vier skoolhoofde, waarvan die huidige een, Genevieve Muller, die eerste vrou in 'n halfeeu is.
Sy het haar pos in 2019 opgeneem. Die vorige hoofde was mnre H J Abrahams (1971 – 1983), D A Witboy (1983 – 1993) en G D Briesies (1994 – 2018).
Die skool het sy ontstaan in 1971 gehad en dit is aanvanklik " die staatskool" genoem.
Nadat die Lutherse Skool in Montagustraat se deure toegemaak is weens die toepassing van die destydse Groepsgebiedewet, het Diaz sy beslag gekry.
'n Opwindende bouprojek is onder leiding van Granville Briesies (skoolhoof van 1994-2018) aangepak en vandag spog die skool met 'n prag-kampus.
Minstens agt opvoeders wat tans by die skool werk, is oud-leerders van Diaz Primêr en daarop is hulle alte trots. Hulle is Gertrude Jones, Anton du Preez, Mujalaine Stevens, Bertha Arendse, Gaynore Gertse, Lize Lee, Pearle Groenewald, Sedneth Wesso en Valerie Akar.
Op 14 April 2021 het die skool sy 50ste bestaansjaar gevier, maar verlede Vrydag, 16 April is daar behoorlik feesgevier.
Die leerders is met lekkernye getrakteer en die oud-onderwysers is tydens 'n feestelike okkasie onthaal.
Fotogalery: Diaz Primêre skool vier 50 jaar
Terwyl To God be the Glory, Great things He has done uit volle bors gesing is om hierdie besonderse mylpaal te vier, is duiwe op 'n gedenkvlug losgelaat met die hysing van die skoolvlag.
Kyk 'n video hieronder:
Tydens die toesprake het WKOD-kringbestuurder, Rozelle Smith-Neethling en Granville Briesies, voormalige prinsipaal seënwense aan die skool oorgedra. Die huidige skoolhoof Genevieve Muller het ook haar besonderse indrukke van Diaz Primêre Skool gedeel en die personeel as "goed geoliede masjiene" beskryf."
"Die skool se leuse is 'Word 'n baanbreker'. En dit is wat ons steeds poog om te doen - baanbrekerswerk in die gemeenskap."
Verlede Vrydag se funksie is via Facebook Live uitgesaai, sodat dit deur die breër gemeenskap gevolg kon word. Na afloop van die amptelike viering in die skoolsaal gemik op oud-onderwysers, het Ocean Breeze vermaak verskaf en daar is selfs 'n paar danspassies uitgehaal. Die leerders se deelname het in die buitelug plaasgevind en is in twee sarsies aangebied.
Trotse nalatenskap
Genevieve Muller het tydens haar toespraak gesê dat Diaz Primêre Skool sommer van dag een af onder haar vel ingekruip het.
"Die strukture en sisteme wat met die jare in plek gestel is, sal enige nuweling rustig en geborge laat voel."
Hoewel sy beken het dat sy haar toetrede as skoolhoof in die uiterse uitdagende tyd van Covid-19 gemaak het, ag sy haar gelukkig om haar dienstydperl met sulke bekwame, vriendelike, energieke onderwysers te kon afskop.
Sy het hulde gebring aan die vorige hoofde, vir die nalatenskap wat hulle die skoolgemeenskap agtergelaat het.
"Al drie voormalige hoofde het groot baanbrekerswerk verrig. Ons almal het mos seisoene in ons lewens. Elke voormalige hoof het ‘n seisoen gehad om te bou aan Diaz Primêre Skool tot waar dit vandag is. En watter uitstekende werk het hulle nie verrig nie? My hoop is om die pad te loop wat uiteindelik vir almal suksesvol sal wees.
Mag ons alles voluit doen, hoog mik, mekaar inspireer en op die verskillende terreine van ons lewens werklik sukses smaak, want geluk is u keuse. Soos John Maxwell sê : Om suksesvol te wees is om waarde tot ‘n mens se lewe toe te voeg: Become a person of value."
Muller het ook die oud-onderwysers geloof vir die diep spore wat hulle by Diaz Primêre Skool getrap het.
"Vandag sit u hier in ekstase en ek is seker u sit hier met ‘n Diaz-trots wat woorde nie kan beskryf nie. U kyk vandag terug en sê; 'we’ve come a long way'. Dis julle wat die fondasie van hierdie skool gelê het.'
Wat haar visie vir die toekoms betref, het Muller die onderwysers aangemoedig om ambisieus te wees, groot te droom en hard te werk. Sy het haar span energie, toewyding en deursettingsvermoë toegewens.
"Mag julle soos arende wees wat nooit moeg word nie. Ek wens u toe dat u sal aanhou en uithou tot aan die einde van u onderwysloopbaan, met die woorde: I gave it my best shot. Mag ons wat hier is en agterbly, aanhou bou om Diaz Primêre Skool tot hoër hoogtes te neem."
Die skoolhoof, Geneviev Mulle (middel agter) saam met die agt onderwysers wat leerders aan die skool was (agter van links) Gertrude Jones, Anton du Preez, Muller, Mujalaine Stevens, Bertha Arendse. Voor van links: Gaynore Gertse,Lize Lee, Pearle Groenewald, Sedneth Wesso, Valerie Akar.Foto: Jannie du Plessis
Die volledige personeel van Diaz Primêre Skool. Foto: Jannie du Plessis
Adjunk-hoof Tharien Strauss, skoolhoof Genevieve Muller en WKOD-kringbestuurder, Rozelle Neethling-Smith.
Genevieve Muller en Rozelle Neethling-Smith deel 'n prettige oomblik.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'