MOSSELBAAI NUUS - Meer as 100 inwoners van Danabaai het vandeesweek by die gemeenskapsaal bymekaargekom weens bekommernisse oor 'n verdigtingsaansoek in dié area.
Die aansoek is gebring vir die verdigting van ERF 19741, wat voorheen goedgekeur is vir die bou van 270 wooneenhede.
Die nuwe aansoek behels ondermeer die bou van 288 woonstelle, 88 enkel residensiële erwe en 385 meenthuis erwe.
Verteenwoordigers van beide Hilland Environmental (verantwoordelik vir die impakstudie van die ontwikkeling) en Similan ontwikkelaars was by die vergadering teenwoordig en het voorleggings aangebied waarna die gemeenskap die geleentheid gegun is om vrae te vra.
Cathy Avierinos van Hilland het gesê sou die verdigtingsaansoek slaag, daar nie 'n negatiewer impak op die omgewing sou wees as wat die vorige impakstudie getoon het nie.
Sy het verduidelik dat daar met enige ontwikkeling versteurings plaasvind, maar dat dit streng gereguleer word. Die tydperk vir kommentaar op die nuwe studie deur Hilland sluit op 14 Oktober. Kommentaar kan aan admin@hilland. co.za gestuur word.
Die verteenwoordiger van Similan, Pieter du Toit, het meer vertel oor hoe die verskillende wooneenhede sal lyk en ook in watter prysklas dit sal val. Hy het ook meer verduidelik oor die maatskappy se benadering en hoe dit moontlik is vir meer eenhede om dieselfde effek op die omgewing te hê.
Du Toit sê toe die aanvanklike ontwikkeling goedgekeur is, was dit 'n ander ekonomiese landskap. In die huidige klimaat maak dit meer sin om digter verbouings goed te keur, wat ook meer bekostigbaar is. Hy sê ook die verskuiwing van Floraweg bepaal hoeveel van die fases hulle aanvanklik sal kan voltooi.
Sou die pad nie skuif nie, sal heelwat minder eenhede moontlik wees. Hy het ook genoem sou hulle goedkeuring kry die ontwikkeling waarskynlik nie binne die volgende jaar sou begin nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’