MOSSELBAAI NUUS - Die standaard is hoog gestel by die Da Gamaskop-polisiestasie op Mosselbaai.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van die Wes-Kaap, het op Saterdag, 18 Januarie, by die Century City Konferensiesentrum in Kaapstad die wenners aangekondig van die 2023/2024 Provinsiale Uitnemendheidstoekennings.
Vir lt-kol Maria Gerber, 'n jarelange strydros van Da Gamaskop, is die ontvangs van eerbewyse niks nuuts nie.
Gerber is aangewys as Speurder van die Jaar, vlak 8-12.
"Ek waardeer dit baie om deur die SAPD erken te word vir die werk wat ek ingesit het," het sy nederig aan die Mossel Bay Advertiser vertel.
By verlede jaar se Tuinroete-distrik se Prestige-toekennings, is sy as Speurder van die Jaar gekroon en was sy ook die naaswenner in die afdeling vir Polisievrou van die Jaar.
Sy het nie vir haarself aan hierdie erkenning gewerk nie, maar eerder vir die SAPD en die groter Mosselbaai gemeenskap waaraan sy meer as 30 jaar toegewy het.
Gerber hoop dat haar harde werk en die erkenning wat sy gekry het as motivering sal dien vir ander by Da Gamaskop. Veral die jonger offisiere, wat pas hul loopbane begin.
Gerber was een van drie Da Gamaskop-beamptes, wat toekennings ontvang het.
Tot sy verbasing is Sersant Donovan Geswindt as Sportman van die Jaar aangewys. Geswindt is 'n ywerige biljartspeler, iets wat hy geniet sedert hy 12 jaar oud was.
Geswindt se talent in biljart sal hom binnekort na die buiteland neem waar hy in April in Engeland en ook in Ierland in November in aksie sal wees.
Adjuant Offisier Alistair Rezant het ook 'n toekenning ontvang vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS), vlak 5-7.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’