MOSSELBAAI NUUS - Die busstop in Blandstraat, oorkant die Goods Shed is iets van die verlede nadat dit onlangs afgebreek is.
Volgens Werner Schwella, bestuurder van die Mosselbaai Sentrale Verbeteringsdistrik oftewel CID, het dié struktuur talle hoofbrekens veroorsaak.
"Die operasionele personeel moes gereeld by die bushokkie optree wat deur haweloses as 'n slaapplek gebruik is."
Volgens Schwella het die operasionele personeel in die afgelope weke hulle hande telkemale vol gehad met haweloses wat bedel en onder die invloed van alkohol op straat slaap.
Hy het die polisie bedank vir hulle ondersteuning, wat by tye deur die CID-personeel ingeroep moes word. Schwella sê ook dat daar heelwat versoeke om hulp van buite die CID se grense ontvang is.
"Ons probeer bystand lewer waar ons kan, maar het nie altyd die mannekrag beskikbaar nie."
Schwella het gesê dat die CID binnekort "geen bedel/no begging"-kennisgewingborde binne die CID se grense gaan oprig.
"Ons wil net weer 'n ernstige beroep doen op alle inwoners en besoekers om nie geld of kos aan bedelaars te gee nie, want sodoende neem die bedelaars ongelukkig net toe en bly hul op straat."
Vir meer inligting oor die voorgestelde uitbreiding van die CID se grense, kontak Werner Schwella per e-pos (werner@schwella.co.za).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'