GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die 1st Company Great Brak River Boys Brigade het onlangs ’n onvergeetlike besoek aan Johannesburg afgelê waar hulle aan die Jong Brigades-kompetisie in Westbury deelgeneem het.
Die span van volwassenes en kinders uit die Groot-Brak-gemeenskap het uitstekend presteer en met ’n welverdiende tweede plek asook toekennings vir beste uniform en beste musiekstuk huis toe gekeer.
Die brigade se kapt. Deverell Loff sê benewens die kompetisie het die groep ook die geleentheid gehad om die Konstitusieheuwel te besoek, een van Suid-Afrika se bekendste historiese terreine waar oudpresident Nelson Mandela destyds aangehou is. “Die besoek was vir die lede ’n waardevolle en leersame ervaring,” sê Loff.
Ouers, die bestuur en brigadelede het die toer terdeë geniet en kosbare herinneringe saam geskep. Die besoek het op uitnodiging van die 2nd Company Noordgesig Boys Brigade in Soweto plaasgevind.
“’n Opregte woord van dank gaan aan biskop Dulton Adams, asook aan ons UCCSA Groot-Brakrivier-kerkraad en -gemeente, die gemeenskap van Groot-Brakrivier en elke persoon van heinde en ver wat skenkings gemaak het om hierdie droom vir ons lede te verwesenlik.
“Ons bedank ook elkeen wat ons fondsinsamelings en funksies deur die jaar ondersteun het. Sonder julle sou hierdie prestasie nie moontlik gewees het nie.”
Loff sê die brigade sien reeds uit na volgende jaar se kompetisie.
Enigeen wat graag ’n bydrae of skenking wil maak om die span te ondersteun, word vriendelik uitgenooi om met Loff by 073 901 8525 in verbinding te tree. Elke bydrae, groot of klein, help om jongmense se drome te verwesenlik, sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’