Video
MOSSELBAAI NUUS - ’n Brand wat vroeg vanoggend, Woensdag 9 September, by Avbob Begrafnisdienste in Montagustraat, Mosselbaai ontstaan het, is net voor 03:00 deur die brandweer geblus.
“Die brand het gelukkig nie die deel van die gebou waar ons die liggame en as van kliënte se geliefdes berg, bereik nie,” sê Sakkie Roets, ’n verteenwoordiger van Avbob.
“Die as is nog veilig hier in Mosselbaai, en ons het die liggame intussen na die Avbob-tak in George geskuif.”
Die oorsaak van die brand is nog onbekend.
Roets sê daar was onder meer dokumentasie in die deel wat wel deur die brand geraak is. Een van die besigheid se voertuie het in die straat gestaan en is ook tydens die brand beskadig.
Roets en sy vrou, Ronel, woon bokant die besigheid. Van hul besittings asook hul persoonlike voertuig het skade gely, maar die omvang daarvan is nog nie duidelik nie. Sakkie is tans in Durban vir ’n konferensie, maar sal vandag terugkeer Mosselbaai toe. Ronel en hul seun Izak, en dogter Danika, was tuis toe die brand ontstaan het, maar kon gelukkig betyds uitkom. Sakkie sê egter daar was nie tyd om enigiets saam met hulle te neem nie.
VIDEO: Só lyk die Avbob-gebou in Montagustraat, Mosselbaai ná die brand geblus is
Hy sê verder het mense reeds na hulle uitgereik om hulp en blyplek aan te bied, waarvoor hulle baie dankbaar is.
Avbob se kantoor in Marshstraat kan vir enige navrae en betalings gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’