Update
MOSSELBAAI NUUS - ’n 16-jarige seun sal na verwagting vandag, 12 Augustus, in die Bredasdorp-landdroshof verskyn in verband met die messteekvoorval waarin ’n matriekleerder van Hoërskool Punt Saterdag 8 Augustus tydens ’n rugbywedstryd by Hoërskool Bredasdorp met ’n mes gesteek is.
Die Punt-leerder het vir die skool se tweede rugbyspan teen Bredasdorp gespeel.
Hy was glo op pad om op die bus na Mosselbaai te klim toe ’n woordewisseling met ’n ander leerder ontstaan het.
Hy is daarna in die teenwoordigheid van verskeie ander leerders met ’n mes gesteek.
Volgens inligting is die verdagte nie ’n leerder van Punt of Bredasdorp nie, maar wel ’n leerder by ’n ander skool in die Bredasdorp-omgewing.
Polisiewoordvoerder, konst. Ndakhe Gwala, sê die verdagte is na die voorval in hegtenis geneem.
Geen verdere besonderhede oor die aanklagte teen hom is tans beskikbaar nie.
Intussen het die skoolhoof van Hoërskool Punt, Adolf Gouws, aan Mossel Bay Advertiser gesê die slagoffer is uit die hospitaal ontslaan en dat dit onder die omstandighede goed gaan met hom.
Hy sê leerders wat ooggetuies van die voorval was, het intussen berading by die skool ontvang.
Vorige artikels:
- Punt-matriekleerder in Bredasdorp gesteek: Poging tot moord ondersoek
- Matriekleerder van Hoërskool Punt gesteek ná sportbyeenkoms op Bredasdorp
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’