MOSSELBAAI NUUS - Besigheidsvroue in die groter Suid-Kaap het Maandagoggend by die Oubaai Hotel die konferensiesaal volgepak toe geleentheidsprekers Ezilda Becker, van onder meer De Kat-faam, en die koskenner en skrywer Annelien Pienaar, hul besigheidservaring en insigte tydens die eerste Women for Business netwerkbyeenkoms gedeel het.
Voorsitter van Women for Business in die Suid-Kaap, Elsie Harmse, die uitvoerende beampte van Africa Skills Private College, het tydens die loodsingsbyeenkoms op 11 September gesê hulle is voornemens om dié unieke platform as netwerkgeleentheid ten minste kwartaalliks aan te bied en met ewe bekwame sprekers.
Sy het die komitee van voorslagbesigheidsvroue wat Women for Business dryf, ook bekendgestel.
Ezilda Becker, onder meer die eienaar van African Sky Media en uitvoerende vervaardiger van De Kat TV, het die gehoor pittig gemotiveer om daardie besigheidsidee wat hulle nog nie tot uitvoer gebring het nie, deeglik te beplan en beredeneerd aan te pak.
Sy het boonop template van 'n besigheidsplan beskikbaar gestel en het die vroue gemaan om nie toe te laat dat geykte geslagsrolle aan hulle toegedig word nie. Sy is as 'n "builder of other people's dreams" en by voorkeur 'n landbouer, aan die gehoor bekendgestel.
Mosselbaai se voorslagbesigheidsvroue Lynette Whittaker, Imke Dekker, Shirley Schmidt en Michelle Roux, tydens die eerste Business for Women netwerkbyeenkoms op Maandag, 11 September.
"As vroue nie 'n leiersrol opeis in besigheid nie, sal hulle tevrede moet wees om altyd die tee te skink."
Sy het besigheidsvroue ook gemaan om 'n waarde vir die tyd wat hulle aan 'n besigheid bestee, te bepaal en dit in enige begroting in berekening te bring.
Eweneens het sy die waarde van voortdurende opleiding beklemtoon en verskeie webwerwe gedeel waar vroue aanlyn hul vaardighede kan opskerp.
Op die vraag hoe sy as besigheidsvrou ontspan, het sy gesê haar stokperdjie is om besigheidsidees tot volwaardige besighede te ontwikkel. "Dit skep die grootste bevrediging wanneer 'n idee werk, wanneer dit 'n werklikheid word."
Binnekort sal ten minste nog een van haar idees, eBuki, geloods word wanneer tabletrekenaars met al die handboeke wat 'n leerder oor 12 jaar mag nodig kry, 'n werklikheid word, juis vir daardie leerders wat nie oor internettoegang beskik nie.
Die waarde van 'n aanlyn-teenwoordigheid, nie net vir besighede nie maar vir elke besigheidsvrou, is toegelig deur Annelien Pienaar, wat aan die hand van haar eie suksesvolle aanlynprofiel die sakevroue gemotiveer het om 'n groter webgedrewe identeit te skep.
Die Business for Women-komitee wat vervolgens die voorsitter, Elsie Harmse (heel regs) sal bystaan met onder meer die organisering van kwartaallikse netwerkbyeenkomste, sluit Mosselbaai se voorslagbesigheidsvroue Shirley Schmidt (links) en Imke Dekker (derde van links) in. Belangstellendes kan hulle kontak vir inligting oor die organisasie.
Sy het op die waarde van navorsing gewys wat die grondslag lê van haar aanlynsukses.
"Gaan googleloer wat ander besighede doen, en wees kreatief in die hantering van probleme. Maak egter seker dat jy aan jou beloftes kan voldoen. "Dare to be different in you approach."
Sy het benadruk dat die internet, veral met 'n goeie aanlynteenwoordigheid, nie net onontbeerlik is nie, maar die besigheidsvrou se hand sterk mits dit goed beplan en deeglik beredeneerd bestuur word.
Vroue in besigheid wat toekomstige netwerkbyeenkomste wil bywoon, word uitgenooi om met Women for Business-komiteelede kontak te maak.
'n Afvaardiging van die Mossel Bay Black Business Agenda, saam met Nomzi Jika en Shirley Schmidt (middel).
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'