MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers, waaronder sakelui, argitekte, entrepreneurs, kunstenaars, asook verteenwoordigers uit die skolegemeenskap het verlede week aan 'n insiggewende werkswinkel onder leiding van professor Erwin Schwella deelgeneem.
Schwella, 'n emeritus professor in publieke leierskap aan die Universiteit Stellenbosch, is die voorsitter van die Mosselbaai Sentrale Verbeteringsdistrik (CID).
'n Veldtog is tans aan die gang om die horisontale grense van die CID uit te brei. Schwella het tydens die loodsing van die voorgestelde uitbreiding in Januarie vanjaar verduidelik dat daar ook 'n vertikale uitbreiding van Mosselbaai kan plaasvind, wat meer gesteld is op 'n intellektuele verbreding met betrekking tot 'n handelsruimte waarop die dorp ekonomies kan uitbrei buite die munisipale gebied.
Op hierdie manier kan veral kunstenaars via byvoorbeeld elektroniese handelsplatforms ekonomies bemagtig en bevorder word.
Die werkswinkel wat in die Graanskuur van die Dias Museum gehou is, is onder die vaandel #recreate Mossel Bay aangebied met die fokus op komplekse uitdagings wat veral lede van die kunstenaarsgemeenskap in Mosselbaai in die gesig staar en om oplossings hiervoor te vind.
Deelnemers is in groepe verdeel en het deur middel van onder meer die World Café-metodiek gebruik gemaak as deel van die besprekingstegnieke. Die groepe het onderling gesels oor vyf aspekte insluitend probleme, innoverende idees, sakemodelmoontlikhede, tegnologiese opsies, asook moontlike oplossings en prototipes.
Professor Erwin Schwella tydens die werkswinkel.
Curro-leerders en verteenwoordigers van die junior stadsraad, Zandri van Greunen en Ethan-John Carstens het ook hulle bydrae gelewer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'