MOSSELBAAI NUUS - Vir Lester Ruben Paulus, oftewel Crimson Hozay (21), het 'n wen in die ope kategorie van vanjaar se Mossel Bay's Got Talent ook nie net in sy skoot geval nie.
Ook hy, moes 'n derde keer probeer, voor hy sukses in die kompetisie kon smaak.
Hy beoefen al die afgelope ses jaar lank kletsrym.
Die Mossel Bay Advertiser het met hierdie positiewe jong man gaan gesels.
Is jy van Mosselbaai?
Ek is oorspronklik van die Vrystaat, maar is gebore in die Kaap.
Waar kom die kletrsymery vandaan?
Ek het grootgeword met musiek. My pa het vir my 'n musiektape gegee toe ek maar twee jaar oud was. As die musiek gestop het, het ek begin huil. Dan moet my ma dit weer aansit. Só het sy my aan die slaap gekry. Tot vandag toe, is daar nie 'n dag sonder musiek in ons huis nie.
Het jy voorheen aan MBGT deelgeneem?
In 2017 was die eerste keer. In 2018 het ek derde gekom. In 2019 - hier rap ek R10 000 los. Was dit nou nie skok nie! Vir almal, veral vir my.
Waaroor gaan jou lirieke?
Ek sing oor alles wat ek as mens beleef en die dinge rondom my wat 'n impak op my lewe het. Soms oor hoe ek voel of hoe ek myself aan ander uitbeeld om te wys dat daar altyd 'n oplossing vir elke probleem is. Wat ookal die probleem, glo en bid.
Hoe voel jy daaroor dat jy gewen het?
Toe ek my naam hoor? Sjoe! Ek het gemengde gevoelens gehad.
Maar daar was een realiteit duidelik.
Wen of verloor, hou aan probeer, want aanhouer wen.
Hoe was die kompetisie en wat het jy daaruit geleer?
Die kompetisie was tough. Ek moes iets totaal anders as voorheen doen. Ek moes harder werk en ek moes in drie tale leer rap.
Maar ek het die kompetisie geniet. Ek het baie oor myself geleer, geleer om myself te wees en voluit te leef. Met elke optrede het ek hard geoefen en net my beste gegee.
Hoe gaan jy jou prys aanwend?
Ek gaan R5 000 vir my ma-hulle gee, omdat hulle in my glo en my ten volle ondersteun in alles wat ek doen. Met die ander R5 000 gaan ek my studio bou.
Ek wil meer oor musiek leer. Ek skryf alles self, record myself en produce myself.
Wat is jou groot droom?
My groot droom was nog altyd om 'n meganiese ingenieur te wees.
Ek maak my drie jaar by Suid-Kaap Kollege vanjaar klaar. Maar musiek, vir my sal rap maar altyd daar wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'