MOSSELBAAI NUUS - Vir diegene in die groter Mosselbaai wat die voëllewe bewonder, is daar 'n interessante brokkie nuus. Harry Hill, voormalige munisipale woordvoerder en ook entoesiastiese voëlkyker, het in Junie op 'n vonds afgekom in Klein-Brakrivier.
Op 18 Junie het Hill 'n knobbeleendwyfie opgemerk wat tot groot opgewondheid gelei het. Hill het by navraag gesê dat die eendwyfie die afgelope twee tot drie weke egter nie meer gewaar is nie.
"Dit het in ‘n stadium gelyk of sy ‘n besering aan haar een poot gehad het. Sy het dus óf uit die gebied padgegee, óf die natuur het dalk sy verloop geneem," het Hill gesê.
Hill se hy kyk reeds sedert 1990 voëls in die omgewing, maar dat dit die eerste keer was dat hy die betrokke voëlsoort in die omgewing gesien het. Hy het egter vantevore die spesie in die Krugerwildtuin asook in die Nylstroom-omgewing gesien.
"Dit is ‘n groterige eendsoort, en ontleen sy naam aan die groot knopagtige kam wat die mannetjie gedurende broeityd aan sy voorkop of snawel het. Dit word as ‘n intra-Afrika gedeeltelike immigrant beskryf, en hulle normale verspreidingsgebied is min of meer noord van ‘n lyn deur Suid-Afrika van Durban na Bloemfontein tot in Zimbabwe, Zambië, Mosambiek, Malawi, die Caprivi en verder wes in Namibië," verduidelik Hill.
"Volgens dr Anton Odendal van Birding Western Cape is die voëls egter al vantevore in die Kaapstad-omgewing en selfs die Tankwakaroo aangeteken. Hy verwys ook na ‘n irruption van die eende in die Wes-Kaap in die afgelope tyd. Daar is ook onlangs een vir die eerste keer naby Port Elizabeth aangeteken."
Volgens Hill gebeur dit oënskynlik al hoe meer dat voëlsoorte wat nie oorspronklik in die gebied voorgekom het nie, nou wel hier voorkom. Voorbeelde hiervan, aldus Hill is die nonnetjie-eend en die gryskopmeeu.
"Toe ek in 1990 hierheen getrek het, het die naslaanboeke gesê die nonnetjie-eend kom net in uitsonderlike nat jare in die Suid-Kaap voor. ‘n Mens sien hulle nou dikwels. Die gryskopmeeue, wat nou so volop is, is ook ‘n onlangse intrekker. ‘n Witborsspreeu is ook in die laaste maand of wat in die gebied waargeneem, asook gryssuikerbekkies wat nie normaalweg in die gebied voorkom nie."
* Het jy interessante voëls in die omgewing gewaar? Deel gerus jou foto's, videos en waarnemings - cornelle@groupeditors.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'