Gallery
TUINROETE NUUS - Die 2019 Fragrance Fest het verlede Saterdag plaasgevind en ondanks die koeler weer is dit baie goed ondersteun. Sedert die Fragrance Fest in 2015 onder leiding van Nelma Ruschioni van stapel gestuur is, het talle opwindende nuwighede deel van die fees geword, alles bydraend tot die sukses en vooruitgang daarvan.
Vanjaar was die Groot-Brakrivier Museum die eerste stop op die roete. Daar is heerlike ontbyt op die koop toe aangebied. Die aromatiese Brothers Coffee Roastery by The Pink House het veral groot byval gevind. Die eienaars, Ben en Sunel het genoem dat hulle vier jaar gelede met die hulp van slegs vier personeel afgeskop het. Vanjaar het 'n span van 14 personeellede reggestaan om die gaste te bedien.
'n Splinternuwe toevoeging was die plaas, Avant Garden waar daar aan Karoo-jenewer geproe, aan heerlike versnaperinge gepeusel, of sommer net die plaaslug geniet word.
In die skuur by Hakuna Matata het die bekende Kitchen Queen Chef, Karen du Plessis, watertand kookdemonstrasies aangebied. Die vroue van SharLeBel-sampioene het meer van hul produkte vertel, die dapper stappers kon hap-hap na die leeus se kamp stap en ander kon onder die bome na die pragtige sang van Brigitte luister.
Tuisprodukte
Die vriendelike inwoners van Friemersheim het hul tuisprodukte langs Kretzenstraat bemark; die pragtige Santa Bonné-proteas van Forest Hill-proteaplaas het geblom, en die Volkwyn-familie het weer, met 'n Volkwyn-stoel en die merkwaardige geskiedenis daarby, hul familiefees met die alombekende vark op die spit gevier. 'n Brand het die Friemersheim-laventelkwekery in 2017 heeltemal verwoes, maar Petra se harde werk om nuwe plante aan te plant het vrugte afgewerp en besoekers het hulle verstom oor haar kennis van die omgewing en sy mense.
Vir die manne het die besigtiging van Kobus Halliday se veteraanmotors 'n nostalgiese blink-in-die-oog gebring. Ook nuut, was die oopstel van die Molenrivier-kampeerterrein. Almal was eens om so gou moontlik in dié pragtige terrein te kom uitspan.
Die roete het geëindig met 'n koue lafenissie by die Botlierskop Bellevue Restaurant.
Shweshwe Stop
Die Shweshwe Stop-projek het groot belangstelling uitgelok, veral die "proesak" het uitstekend verkoop. Hierdie projek beloof om binnekort 'n baie groot toerisme aantreklikheid te wees.
Isishweshwe is 'n tipiese, plaaslike materiaal wat by Da Gama in die Oos-Kaap vervaardig word. Die helder kleure en unieke patrone is funksioneel en deel van Suid-Afrika se wye kulturele erfenis.
Elke jaar is daar nuwe inisiatiewe en word meer mense betrek. Baie meer besoekers word op die feesdag opgemerk. Vanjaar was daar 'n vrolike, ontspanne atmosfeer - kinders het gelag en gespeel terwyl mammas en oumas na die handgemaakte ware gekyk het en oupas het op kratte met koffie en 'n eetdingetjie in die hand gesit en die bedrywighede gadegeslaan het. Pannekoek, afval, tertjies, vars brood en die allerheerlikste versnaperinge kon oral geniet word. Aangesien Nasionale Melktertdag boonop onlangs gevier is, is melktert op verskeie maniere opgedis.
Met die 150 jaar viering van Friemersheim in 2020 gaan hierdie fees nóg meer belangstelling lok.
Die 2019 Fragrance Fest was 'n fees van kleur, kos, kultuur en klank. Nuwe vriendskappe is gesmee en word al as deel van die fees ervaar.
Die vrolike lede van die Volkwyn familie het weer met hul varkie op die spit groot belangstelling gelok.
Heerlike pannekoeke en jaffels gevul met melktert vulsel en afgelsuk met 'n koppie boeretroos was maar een van die gunstelinge op hierdie jaar se Fragrance Fest-roete.Foto: Tersia Marais
Die Shweshwe Stop-projek het weer eens groot belangstelling uitgelok en veral die "proe-projek" het uitstekend verkoop. Isishweshwe is 'n tipiese plaaslike materiaal wat by Da Gama in die Oos-Kaap vervaardig word. Die helder kleure en unieke patrone is funksioneel en deel van ons land se wye kulturele erfenis.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'