Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - "Vroue van Mosselbaai, julle het ons trots gemaak vandag. Lig op julle koppe op, trek aan julle high heels. Sit julle hoede op en wees wee vrou. Dis waarvoor ons gestap het vandag."
Dit was van die kommentaar na die vreedsame optog teen geweld wat Donderdagoggend in Mosselbaai gehou is.
Bo en behalwe die vroue wat tot aksie geroep is om standpunt in te neem teen die vlaag van geweld teen vroue, maar ook teen kinders, het etlike mans ook aan die optog deelgeneem.
Ten spyte van die kwik wat Donderdag tot in die 30 grade Celsius gestyg het, het die deelnemers met oorgawe vanaf D'Almeida na die Mosselbaai-landdroshof beweeg waar 'n memorandum aan die polisie, departement korrektiewe dienste en departement justisie oorhandig is.
Van die versoeke in die memorandum was veral dat sternger omgegaan moet word met die toekenning van borg in die geval van oortredings wat met geslagsgebaseerde misdaad verband hou.
Ontvangers van die memorandums het elkeen op sy of haar beurt hulle toewyding tot die stryd teen hierdie tipe misdaad te kenne gegee.
Lede van die VGK in D'Almeida is baie ernstig daaroor om saam te staan teen geslagsgebaseerde geweld.
Predikante wat die optog meegemaak het, het solidariteit met die saak getoon deur hulle swart togas aan te trek. Vroue, jonk en oud was deurgaans in swart geklee.
Dominee Charlton Crowley van die VGK het hom sterk uitgespreek teen die vlaag van geweld teen vroue en kinders.
"Ons moet met alle mag hierteen baklei en saam met dit vertrou ons ons Hemelse Vader om ook sy liefde, omgee en geregtigheid te laat seëvier. Ons staan bankvas agter hierdie vroue wat elke volgende gesprek en optog betref."
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'