MOSSELBAAI NUUS - 'n 49-jarige vrou van Danabaai sal Maandag, 19 Oktober in die Mosselbaai-landdroshof verskyn nadat sy glo sonder rede op vier kontrakwerkers van die Mosselbaai-munisipaliteit skote afgevuur het.
Volgens die KwaNonqaba-polisie se kommunikasiebeampte, sers Kappie Kapp het die voorval in E Luteastraat in Danabaai op 15 Oktober om 16:00 plaasgevind.
Kapp sê die klaers beweer hulle was op pad huis toe nadat hulle strate skoongemaak het.
“Volgens die klaers het hulle verby die vrou se woning gestap en sy het vir hulle gevra wat hulle daar soek. Hulle het haar nie geantwoord nie, waarna sy in die huis ingegaan en uitgekom het met ‘n vuurwapen. Die vrou het vyf skote op die werkers afgevuur. Hulle het gevlug en later ‘n saak teen haar aanhangig gemaak.”
Die verdagte is gister in hegtenis geneem. Sy staar ‘n aanklag van poging tot moord en ‘n aanklag van die rig van ‘n vuurwapen in die gesig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'