Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die voortou wat die Mosselbaai-munisipaliteit in Oktober 2020 geneem het wat die bevordering van plaaslike veiligheid betref, het 'n verdere hupstoot gekry op Vrydag, 26 Maart met die stigtingsvergadering van die eerste multidissiplinêre veiligheidsforum in die Suid-Kaap.
Verskeie rolspelers in plaaslike en gemeenskapsbeveiliging het die byeenkoms in die stadsaal bygewoon.
Die veiligheidsforum geld vir die groter munisipale area en word deur die SA Polisie in die distrik, asook die onderskeie buurtwaggroepe ondersteun.
Die munisipaliteit is bankvas agter die veiligheidsforum, onder leiding van die hoof van die munisipaliteit se nuwe direktoraat vir gemeenskapsveiligheid, Colin Puren, en raadslid Leon van Dyk, wat die proses geïnisieer het.
"Ons skryf vandag die voorwoord van 'n suksesverhaal teen misdaad. Misdadigheid rem ekonomiese ontwikkeling en is nadelig vir die welstand van alle inwoners," het die waarnemende uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé gesê.
Fotogalery: Mosselbaai stig veiligheidsforum
'n Plaaslike owerheid het nie 'n direkte mandaat vir misdaadvoorkoming nie, maar het Kotzé benadruk, noue plaaslike samewerking en ondersteuning, is kernbelangrik.
Die Eden-polisiesonebevelvoerder, generaal-majoor Oswald Reddy, het gesê sy visie is dat die distrik die veiligste area in die land sal wees.
Die Mosselbaai-veiligheidsforum sal met die ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid (DOCS) funksioneer, ekonomies ondersteun word deur onder meer die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en die administratiewe en projekondersteuning van die Mosselbaai-munisipaliteit geniet.
Plaaslike veiligheidsplan
'n Loodskomitee is tot stand gebring wat onder meer 'n plaaslike veiligheidsplan vir die gemeenskap sal ontwikkel. Hierin sal buurtwag- en plaaswaggroepe en gemeenskapsgroeperinge 'n deurslaggewende rol speel.
Die loodskomitee sal onder voorsitterskap van Van Dyk funksioneer. Mosselbaai-munisipaliteit sal deur Puren verteenwoordig word, terwyl die gemeenskapspolisieforums deur Phillip Mattheus; die buurtwaggroepe deur Arthur Riordan; plaaswaggroepe deur Pieter de Villiers verteenwoordig sal word. Die Da Gamaskop-polisiesone, jeugsektor, godsdienssektor en onderwyssektor se gekoöpteerde lede sal later bevestig word. Volgens beplanning, sal die loodskomitee maandeliks, en die gemeenskapsforum kwartaalliks byeenkom.
Van Dyk het 'n oorsig gegee van die voorgenome gesamentlike bestuursentrum waar voorseining gemaak word vir die hantering van beide rampe en gemeenskapsveiligheidsuitdagings op 'n geïntegreerde, tegnologies-gevorderde en gesamentlike benadering in noue samewerking met die onderskeie polisiestasies.
Hy het gewys op die talle gevorderde, geïntegreerde kameras wat in en om Mosselbaai deur privaat-inisiatiewe aangebring is en die suksesse daarvan vir die distrik benadruk.
Die veiligheidsforum vervang of kompeteer nie met die gemeenskapspolisieforums nie, maar sal baie nou met alle fasette van die veiligheidsgemeenskap saamwerk.
Brigadier Phumzile Cetyana (links), bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone en Phillip Mattheus, voorsitter van die Hartenbos-gemeenskapsveiligheidsforum.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'