Gallery
MOSSELBAAI NUUS - "Ek sal nooit, ooit weer teruggaan nie." Dit blý William Sam, oud-soldaat se antwoord op die vraag of hy weer grensdiens sal doen.
Sam, 'n gebore en getoë Mosselbaaier en bekende in militêre veteraankringe, het sy wedervaringe, te boek gestel in My Loopbaan As Bruin Soldaat.
Die boek is Sondag, 1 September in Mosselbaai bekend gestel. 'n Handjievol genooide gaste, waaronder van Sam se mede-soldate, raadslede, familielede asook sy 88-jarige ma, het die geleentheid bygewoon.
Sam, 'n versamelaar van militaria, het kosbaarhede uit sy militêre loopbaan uitgestal terwyl die gasvroue die saal in Civic Park versier het om soos 'n spoggerige menasiesaal te lyk.
Tydens die geleentheid, het Sam by tye emosioneel geraak tydens vertellings. Hy is gediagnoseer met posttraumatiese stresversteuring. "Dit het my 'n fotografiese geheue gegee. Ek onthou alles." Op aanbeveling van sy sielkundige en aangemoediging deur 'n vriend, het hy sy verhaal begin skryf.
Raadslid Niklaas Booisen het Sam gelukgewens met sy boek en ook aangeprys omdat hy die waagmoed gehad het om die onvertelde storie van bruin soldate te vertel. Sam het gesê dat hy landwyd oorval is met oproepe nadat oud-soldate van sy boek gehoor het. In reaksie op 'n artikel oor Sam se boek in die Mossel Bay Advertiser, het die kykNET-geselsprogram, KLOP! hom genader om op 11 September vir 'n onderhoud op die program te verskyn. Dit word in Johannesburg opgeneem. Sam tree ook eerdaags tydens 'n boekgesprek in Oudtshoorn op saam met die ewe bekende oud-soldaat en outeur, Wynand du Toit.
"My volgende boek, gaan sommer 'n dik boek wees. Baie veterane praat nie, maar hulle stories moet vertel word."
Lees 'n vorige artikel hier: Militêre boek onvertelde verhaal
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'