MOSSELBAAI NUUS - Kommer heers oor die veiligheid by die Mosselbaai-landdroshof nadat dit aan die lig gekom het dat nie net voertuie in die parkeerterrein onlangs beskadig is nie, maar daar word ook berig dat voetgangers in die omgewing beroof is.
Volgens 'n betroubare bron is 'n aantal rekenaars ook uit die hofgebou verwyder.
'n Werknemer by die hof, wat versoek het om anoniem te bly, het berig dat sy voertuig se ruitveërs verwyder is.
Hy het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat daar glo ook met ander motors wat per geleentheid in die parkeerterrein gestaan het, gepeuter is.
Die persoon sê dat daar wel sekureitsbeamptes binne die hofgebou is, maar beweer dat die parkeerterrein 'n kwesbare area is. Die saak van addisionele personeel is met die hofbestuur opgeneem, wat glo bevestig het dat die moontlikheid van addisionele sekuriteit ondersoek word.
'n Plaaslike munisipale raadslid, Dawid Kamfer het vroeër vandeesmaand 'n waarskuwing aan die gemeenskap gerig nadat hy gesien het hoe 'n voetganger naby die hof beroof is.
Kamfer beweer dat hy laatmiddag op Louis Fourieweg onderweg was toe hy 'n man te hulp moes snel wat deur 'n verdagte met 'n kapmes aangeval en beroof is. Kamfer het vertel dat die slagoffer 'n oorpak aangehad en vermoedelik van die werk af gekom het toe sy aanvaller hom beetkry.
Kamfer sê dat die mense wat ná die voorval op die toneel saamgedrom het beweer dat verskeie ander voetgangers in die afgelope tydperk vóór die voorval dieselfde lot oorgekom het.
Die vermoede bestaan dat boosdoeners in die bosse langs die voetpad skuil. In die onlangse verlede is indringerbosse langs Louis Fourieweg tot by Casinoweg op versoek van die buurtwag verwyder. Buurtwaglede het ook aan hierdie inisiatief deelgeneem.
Die munisipale woordvoerder, Nickey le Roux het by navraag berig dat die bosse wat afgekap is, weer uitgeloop en baie dig gegroei het. Volgens Le Roux is spanne ontplooi wat weer hierdie probleem sal aanspreek.
Die kommunikasiebeampte van die Mosselbaai-polisiestasie, ao Pieter Koekemoer het by navraag oor die bewerings bevestig dat slegs die diefstal van 'n rekenaar uit die hofgebou op rekord is. "Die voorval het sowat 'n maand gelede gebeur en die dossier is reeds gesluit.
"Daar is geen sake gemaak met betrekking tot rooftogte of die beskadiging van of diefstal uit voertuie nie. Ons moedig die publiek aan om 'n saak te maak as hulle die slagoffers van enige misdaad is," het Koekemoer gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'