MOSSELBAAI NUUS - Twee pigmeë spermwalvisse (Kogia breviceps) het deur die nag van 25 en 26 Junie op die strand tussen Vleesbaai en Boggomsbaai uitgespoel.
Volgens Fred Orban, jare lange inwoner van dié omgewing, het die twee walvisse nog gelewe. Orban sê dit is nie die eerste keer dat dié soort walvisse daar uitspoel nie.
FOTOGALERY: Twee pigmeë spermwalvisse spoel uit
Val Marsh van die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.), het aan Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle sedert Maandagoggend al op die toneel was.
Teen 14:00 Maandagmiddag het Marsh gesê dat die twee walvisse het nog steeds geleef. Hulle het gewag vir die department van bosbou, visserye en omgewing se mense wat die situasie sal opsom en 'n beslissing moes maak. Die twee walvisse is later die middag deur kaptein Johan Ehlers van die polisie uitgesit. Hy is gemagtig om hierdie onaangename taak te verrig.
Teen Dinsdag, 27 Junie, het Marsh gesê dat S.M.A.R.T. se personeel weer op die toneel was waar hulle gewag het vir Ocean Research se spanne wat die nadoodse ondersoek kom doen. Daarna is die oorblyfsels begrawe. Dit was na die ondersoek bevestig dat dit 'n ma en kalfie is aangesien sy nog melk in die melkkliere gehad het.
Die rede vir die spesifieke spesie wat gereeld aan die deel van die kus uitspoel, kon egter nog nie vasgestel word nie. Volgens Marsh is daar die afgelope tyd meer gereeld van die spesifieke spesie op ons strande gevind hoewel hulle egter meer in die diepsee voorkom.
Interessante feite
Die pigmeë spermwalvisse is een van drie spesies van die spermwalvisse wat tande het. Hulle het tussen 24 en 32 tande. Die walvisse is heelwat kleiner as ander spesies en kan by geboorte so 1,2m lank wees.
Volwasse pigmeë spermwalvisse kan tot 3,5m lank word en tot ongeveer 400kg weeg. Hulle eet hoofsaaklik inkvis en seekat asook krappe en garnale en in 'n mindere mate vis. 'n Interresante feit is dat hulle net soos inkvis 'n ink vrylaat indien hulle bedreig word.
DIe twee pigmeë spermwalvisse, 'n ma en haar kalfie, het nog gelewe toe hulle op die strand tussen Vlees- en Boggomsbaai uitgespoel het. Hulle is later uitgesit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’