Dit is die mening van mnr Willem van Schalkwyk, voorsitter van die Onafhanklike Entrepreneursvereniging wat aan die stuur van sake in die Goods Shed staan.
Hy het op 9 Julie telefonies aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat daar nog geen uitsluitsel oor die voortbestaan van die Goods Shed is nie.
Die voortbestaan van hierdie gewilde spilpunt vir kleinsake-ontwikkeling in Mosselbaai is in gedrang nadat dit bekend geword het dat die hawe-owerheid, Transnet National Ports Authority (TNPA), na bewering besluit het om die verhuring van die gebou op tender te plaas onderhewing aan vereistes vir die oordrag van vaardighede vir swart ekonomiese bemagting.
Swart ekonomiese bemagtiging
Die TNPA se aandrang op swart ekonomiese bemagtiging maak dit, volgens Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, feitlik onmoontlik vir 'n regeringsinstansie soos die munisipaliteit om mededingend te kan tender.
Sy het in 'n artikel in die Mossel Bay Advertiser op 13 Junie gesê die Goods Shed voldoen blykbaar nie aan die TNPA se vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging nie. Die TNPA tender vereis skynbaar dat daar ten minste 50% swart verteenwoordiging onder die entrepreneurs moet wees. Die gebou mag ook nie onderverhuur word nie. Volgens Raadsdame Ferreira is dit feitlik onmoontlik vir die munisipaliteit om aan sodanige vereistes te voldoen.
Onsekerheid
Die onsekerheid oor die voortbestaan al dan nie van die Goods Shed eis sy tol op die entrepreneurs en werknemers van die Goods Shed.
Tydens die Mossel Bay Advertiser se onlangse besoek het talle genoem dat hulle en hul afhanklikes van hul inkomste uit die Goods Shed afhanklik is vir oorlewing. Daarbenewens voel hulle uitgelewer en emosioneel ontredder: die Goods Shed is vir baie nie net 'n werkplek nie, maar die bymekaarkomplek van vriende.
Die Goods Shed bied tans 'n inkomste aan sowat 100 persone wat as eienaars of werknemers by kleinsake-ondernemings betrokke is.
Die bestuur van die TNPA is by herhaling vir kommentaar of 'n onderhoud gevra, maar het by die ter perse gaan steeds nie gereageer nie.

Pauline Cupido meen daar is hulp vir entrepreneurs wat graag 'n besigheid in die Goods Shed wil bekom maar nie oor die vaardighede beskik nie. "Die keuringsproses is ewekansig, dit gaan oor die kwaliteit en beskikbaarheid van die produk. Opleidingsgeleenthede bestaan vir mense wat graag hier sake wil bedryf." Sy glo die munisipaliteit sal met sukses met die TNPA onderhandel.

Deon en Chris Schutte bedryf die gewilde restaurant in die Goods Shed en verskaf werk aan minstens 10 mense, in seisoentye selfs meer. "Die terugvoer van toeriste is uiters positief oor die Goods Shed. As sakemanne geniet ons die opset en atmosfeer van die plek en die ligging dra grootliks by tot die sukses van die Goods Shed." Hulle is egter positief dat die munisipaliteit die knoop sal deurhaak en die voortbestaan van die Goods Shed sal verseker.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'