MOSSELBAAI NUUS - Dit is altyd 'n groot opwinding en gedoente as 'n babadogter gebore word. Die NG-gemeente van Mosselbaai-Suid is op 29 Julie 1958 gebore as die vierde dogter-gemeente van die Mosselbaai-gemeente.
By die eerste erediens van die nuutgestigte gemeente op 3 Augustus 1958, is ook die eerste vier babas gedoop.
By hierdie geleentheid is aan elke baba 'n Bybel geskenk. Die merkwaardige is dat dit na 65 jaar nog steeds by elke doopplegtigheid gebeur. Die dopelinge van Mosselbaai-Suid begin hul pad in die kerk met 'n eie Bybel!
Die volgende predikante het die gemeente gedurende 65 jaar bedien:
Dominee Hennie Pepler (1958-1978); ds Schalk van Wyk (1974-1978); ds Janlu Kuyler (1978-1987); ds Johan de Wet (1979-2004); ds Wynand Nel (1984-1990); ds Hannes Burger (1987-1992); ds Robert Knobel (1989- tot op hede); ds Danie Smit (1991- tot op hede) en ds André Kritzinger (1993 - tot op hede).
Die gemeente was ook bevoorreg om vir korter tydperke twee Jeugwerkers te kon hê om die uitbreidende jeugwerk te behartig. Hulle was Albé Theunissen (2001-2002) en Gerhard Strydom (2003-2010). Die leraars se bediening is ook gedurende 1995 tot 2003 deur twee aflosleraars bedien, ds Frans Schultz en prop Kobus Kloppers.
Laerskool Park
Gedurende die 65 jaar het die gemeente besondere bande met Laerskool Park gehad. Dit begin reeds op 2 Februarie 1959 toe die Departement van Onderwys toestemming verleen het dat Laerskool Park se skoolsaal deur die gemeente gebruik kon word vir haar byeenkomste totdat 'n eie gebou opgerig kon word. 'n Kosbare verbintenis het met Laerskool Park tot stand gekom wat ná 65 jaar nog net dieper en hegter gegroei het.
Oor die afgelope 12 jaar bedien die gemeente - in die persoon van ds Danie Smit – die skool met 'n waardeprogram en pastorale begeleiding van kinders en gesinne. 'n Baie spesiale tradisie het tot standgekom rondom Hemelvaart. Elke jaar met Hemelvaart stap die hele skool om 'n Hemelvaartdiens in die kerkgebou van die gemeente by te woon. Die week daarna word Pinkster bidure in die skoolsaal gehou.
Die eerste pastorie van die gemeente is tussen 1959 en 1960 deur Mosselbaai Konstruksie Beperk opgerig teen 'n koste van R71 786. Die kerkgebou bied sitplek aan 542 mense. Tussen 1971 en 1972 is die kerksaal voltooi en die boukoste het toe R80 198 beloop. In 1979 is die pastorie in Danie de Jagerstraat aangekoop.
In 1982 is die pastorie in 12de Laan aangekoop, maar in 2004 is dit met die vertrek van ds Johan de Wet van die hand gesit. In 1990 is die pastorie in Stinkhoutstraat aangekoop met die vooruitsig van 'n vierde leraar.
Op 1 Maart 2004 het Danabaai van die gemeente afgestig en 'n selfstandige gemeente geword. Suidkerk se leuse is: "Ons eer God met liefdevolle omsien en uitreik". Die gemeente wil daarom ook sy dienslewering aan die breër gemeente steeds voortsit en uitbrei. Gedurende die Covid-jaar is met 'n saalmark begin wat tot op hede wonderlike verhoudinge met Mosselbaaiers in die breër gemeenskap tot gevolg gehad het.
Uitnodiging
Op Sondag, 30 Julie, vier die gemeente sy 65ste bestaansjaar. Alle oud-lidmate en vriende van die gemeente word uitgenooi om die erediens om 09:00 in die kerkgebou in 17de Laan by te woon. "Ons wil graag aan die Here onse God al die lof en dank toebring vir 65 kosbare jare van gemeente wees. Mag Hy steeds sy Lig helder deur die gemeente in Mosselbaai laat skyn!
"Baie dankie ook vir die goeie gesindheid van die Raad en besigheidsgemeenskap teenoor die gemeente oor 65 jaar heen," sê ds Smit.
Die preekstoel in die NG Suid-gemeente.
Die Mosselbaai NG Suid-gemeente is op 29 Julie 65 jaar oud.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’