MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-Suid gemeente hou weer op Vrydag, 1 Maart vanaf 17:30 'n lekker basaar op hulle kerkgronde in 15de Laan. Dit beloof om, soos in die verlede, 'n heerlike feesgeleentheid vol verrassings te wees.
Vanaf 10:30 is daar 'n tee- en koffietuin met heerlike gebak. Aktiwiteite vir die kinders begin om 17:00. Dit beloof om hope pret te wees. Die kindertafel sal allerlei lekkernye en interessante goedjies hê vir kinders.
Vanaf 17:30 sal allerhande lekker hap-en-trap-items soos sosaties, boereworsrolle, ribburgers asook lekkernye soos basaarpoeding, pannekoek, tuisgemaakte lekkers, klein koekies, groot koeke, terte, pasteie, koeksisters, beskuit en brode en vele meer te koop wees.
Daar is ook 'n witolifant-tafel waar die versamelaar interessanthede teen billike pryse kan opraap. As jy op soek is na 'n interessante oudheid of 'n gebruiksitems mag jy dit dalk ook daar vind. Gebruikte tydlose boeke en tydskrifte, asook inmaakprodukte sal verkoop word.
Die basaar bied ook weer heerlike vars vleis. Bobaas tuisgemaakte boerewors en ander vleissnitte sal teen billike pryse beskikbaar wees. Heerlike aandetes, soos skaapkerrie, sal ook verkoop word.
"Ons nooi almal in die gemeenskap om 'n lekker basaar saam met ons lidmate te kom geniet.
"Bring jou vriende en familie saam en kom kuier lekker saam met ons, terwyl die kinders hulle behoorlik geniet saam met hulle maats."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'