MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-Suid gemeente hou weer op Vrydag, 28 Oktober vanaf 17:00 ‘n lekker basaar op hulle kerkterrein in 15de Laan.
Dit beloof om, soos in die verlede, ‘n heerlike feesgeleentheid met talle verrassings te wees.
Vir die jongspan is daar ‘n springkasteel waarop hulle gratis kan baljaar asook sandart by die kindertafel.
Dit beloof om hope pret te wees. Die kindertafel sal allerlei lekkernye en interessante goedjies vir kinders aanbied.
Vanaf 17:00 sal daar ook allerhande lekker hap-en-trap items soos onder meer sosaties, skaapkerrie, ribburgers, kerrie-vetkoeke en heerlike ander lekkernye soos basaarpoeding, pannekoek, tuisgemaakte lekkers, klein koekies, groot koeke, terte, pasteie, koeksisters, beskuit, brode en vele meer te koop wees.
Ander interessanthede is ‘n witolifant-tafel waar die versamelaar interessanthede teen billike pryse kan opraap.
As jy op soek is na ‘n interessante oudheid of ‘n gebruiksitem teen 'n baie billike prys, mag jy dit dalk ook hier vind.
Gebruikte tydlose boeke en tydskrifte en inmaakprodukte sal ook verkoop word.
"Ons nooi almal in die gemeenskap om ‘n lekker basaar saam met ons lidmate te kom geniet. Bring jou vriende en familie saam en kom kuier lekker saam met ons terwyl die kinders dit behoorlik geniet saam met hulle maats," nooi ds Danie Smit van die gemeente.
Heerlike sosaties gaan soos tydens vorige basaars gebraai en op die spyskaart wees.
'n Besoek aan die kindertafel is 'n moet vir elke kleinding.
Moenie wag tot dit te laat is nie, die heerlike eetgoed by die Suidkerk se basaar is altyd gewild.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'